Luister: Jakkie Louw se kleurryke liedjie oor Afrika wen duisende harte

Die Jakkie Louw Band. (Foto: Facebook)

Jakkie Louw se splinternuwe enkelsnit, “When Africa smiles”, is ʼn goedvoel-snit wat aanhangers en musiekliefhebbers van oor tot oor laat glimlag.

Dié enkelsnit is verlede maand vrygestel ter viering van Erfenismaand en as deel van sy splinternuwe album getiteld Die Jakkie Louw Band.

Die musiekvideo, wat reeds meer as 34 000 kykbeurte op YouTube gekry het, is in die Kaap geskiet en skets die prentjie van samesyn.

“Ek het die video geskiet saam met die oorspronklike orkes wat saam met my aan my album gewerk het. Ek en my vioolspeler, Johan Scheppel, het van Gauteng af gevlieg Kaap toe en die mooiste sonskyndag het ons ingewag. Ons het in die hawe geskiet met Tafelberg as ons agtergrond,” vertel Jakkie in die Maroela Media-ateljee.

Louw, Scheppel, die bekende saksofoonspeler Hiram Koopman, die sangeres Sima Mashazi, Sheldon Daniels, Kevin Taylor en Nathan Carolus vorm deel van “When Africa Smiles” en Die Jakkie Louw Band.

“Ek het vir Hiram gevra hy moet vir my die beste groep Kaapse musikante moontlik saamstel. Ek wou saam met die A-span werk.”

Louw sê hy wil met dié musiekvideo wys hoe mooi Suid-Afrika en sy mense is. “Ek wil hê almal in ons land, en selfs diegene wat nie meer hier woon nie, moet dit beleef,” sê hy.

“Ek het in ’n stadium my hoed afgehaal en my kaalkop gewys en dis waar Hiram toe sy lang dreadlocks-lokke oor my kop gesit het. Ons het almal gelag en ek glo as mense die musiekvideo sien, sal hulle ook net wil glimlag,” vertel hy laggend.

“When Africa smiles” bevat Afrikaans, Engels en Zoeloe en handel oor die mense van Afrika. “Ons word beskou as een van die vriendelikste nasies in die wêreld en ek dink ons moet onsself net soms daaraan herinner.

“Ek glo die meerderheid van ons landsburgers is goeie, vriendelike, eerlike mense wat net die beste wil hê vir ons land én ons nageslagte. As jy en iemand van ’n ander kultuur vandag ’n glimlag kan deel, is ons op die regte pad,” voeg Louw by.

“When Africa smiles” is deur Louw en Koopman gekomponeer. Mashazi is ’n sangeres en liedjieskrywer oorspronklik van KwaZulu-Natal en het veral aandag getrek met haar vertolking van die jonger Miriam Makeba in die musiekblyspel Mama Africa, wat in 2019 ’n gesamentlike projek van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Universiteit van Missouri was.

“Ek en my orkes moes destyds in Polokwane vir ongeveer 4 000 mense, wat verskeie rasse en tale ingesluit het en nie baie Afrikaans was nie, ’n vertoning hou. Ons het dit eers oorweeg om Engelse musiek in te sluit, maar besluit toe om by ons Afrikaanse program te bly.

“Die konsertgangers het dit geniet en almal het saamgedans en geglimlag. Ek het regtig ’n lekker atmosfeer ervaar. Die liefde en wedersydse respek was ongelooflik,” vertel hy.

Dit is dié storie wat Louw ook jare later aan Koopman vertel het. “Hy het dadelik gesê ons moet iets skryf daaroor – om die gevoel wat ek daardie aand ervaar het in ’n liedjie vas te vang.

“Ek het daardie aand nuwe vriende gemaak met die mense by die konsert. Vriendelike, liefdevolle en passievolle mense. Dit het my net weereens laat besef dat ons almal mekaar beter moet leer ken om mekaar te kan aanvaar.”

Vir Louw is “When Africa smiles” ’n storie wat in elke Suid-Afrikaner leef. “Ons almal is meestal goed. Ons hou van glimlag en dit laat ons goed voel. Ek is opgewonde oor dié liedjie, want ek hoop dat dit mense bymekaar sal bring. Dis mos baie lekkerder om te glimlag as om bekommerd en hartseer te wees.”

Louw sê “When Africa Smiles” wakker dieselfde lekkerkry-gevoel by mense aan as sy treffersnit, “Drie Pikkewyne”.

“Musiek maak emosies wakker en ek wil hê my nuwe album moet mense laat goed voel.”

Louw vertel dat hy nou gaan toer om sy nuwe album na al sy aanhangers te neem. “Al is dit nou na 50 mense op 50 dorpe. Ons het net ’n bietjie tyd op hierdie aarde om te doen wat ons kan en om te sê wat ons wil sê. As wat jy sê die moeite werd is, sal dit vir altyd daar wees om mense te help. Ons is deur ’n moeilike tyd, maar dis nou weer tyd dat Afrika glimlag.”

“When Africa smiles” is beskikbaar op alle digitale platforms. Vir konsertbesprekings, stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.