Luister: Jakkie Louw wil hê nuwe album moet jou laat lag

Jakkie Louw se nuwe album (Foto: Verskaf)

Oor een ding in dié lewe is Jakkie Louw seker: Jy kan nie álles ernstig opneem nie.

Daarom het die sanger se jongste album, Party in SA, ten doel om “die goue randjie aan die donker wolk te wees”. Hy wil sing “oor dinge wat mense dikwels morbied maak” – maar “op ʼn lekker manier; een wat mense gaan laat glimlag en laat lag”.

Dié album staan in kontras met Louw se vorige album, Standvastige man, wat hoofsaaklik uit ballades bestaan het, vertel hy. “Die luisteraars wat my baie jare ken, weet ek het 19 jaar terug met baie hartseer musiek soos ballades begin. In ʼn stadium het ek die liedjie ‘Drie pikkewyne’ geskryf wat baie jolig was en vir my baie deure oopgemaak het. Ek het net besef Afrikaners is wel plesierig, en besluit om hierdie rigting in te slaan.

Standvastige man het ʼn boodskap gehad wat ek móés vertel. Ek wou ʼn huldeblyk bring aan my pa en aan die boere vir die tyd waardeur hulle is. Ek as mens het ook baie van myself geleer: Ek het geleer watter tipe man ek vir my vrou en my gesin moes wees, so die boodskap van die vorige album is net een wat ek na buite moes stuur.”

Dit is eers nadat die sanger op Loeriesfontein in die Noord-Kaap ʼn vertoning gehou het en die boere van dié distrik vir “Drie pikkewyne” gevra het, dat die sanger besluit het om weer ʼn ander rigting met sy musiek in te slaan.

“Ek het toe besluit om weer vir my aanhangers só ʼn album te gee omdat ek gedink het die tyd is reg. In dié album het ek ʼn paar dinge van die lewe geneem wat mense dikwels as ‘swaar’ kan sien, en dit toe ‘lig’ gemaak met dié musiek – dit is waar die naam Party in SA vandaan kom.”

Die album is nie noodwendig ʼn “komiese” album nie, maar wel een wat aanhangers gaan laat lag of wil verseker dat luisteraars die lewe met ander oë benader. Die sanger sê die boodskap van dié album is “belangriker” as die boodskappe van al sy vorige albums.

“Ek wil hê die mense moet voel asof hulle met ʼn kort vakansie was – hulle moet lag en lekker na die stories luister, want dit is bedoel om ontvlugting te wees van baie van die negatiewe dinge waarmee ons op ʼn daaglikse grondslag te doen kry. Ek wil hê mense moet die goue randjie aan die donker wolk raaksien met dié album en lag oor die dinge wat ons dikwels morbied maak.”

Die meeste liedjies is deur die sanger en sy vrou, Anel, geskryf.

“As dinge ‘lekker’ gaan op die verhoog, trek ek haar sommer saam op om ook te sing!” skerts hy. “Dis ʼn nuwe seisoen in my lewe. Ek is nou ʼn pa van twee en het ʼn goeie vrou in my lewe. My kinders het my baie geleer van myself. Partykeer moet jy net stilstaan en die lewe en die liewe mense om jou geniet. Ons moet braai, praat oor die goed wat ons laat asemhaal, laat lag en laat lewe. Ons moet ophou kla oor dinge wat ons absoluut niks aan kan doen nie. Almal wat na hierdie album luister, sal die humor en lekker daarvan ervaar.”

Party in SA is in musiekwinkels landwyd beskikbaar. Die album is ook te koop op iTunes. Vir meer inligting, besoek Louw se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.