Luister: James en André: Nuwe musiek is ‘onopgesmuk, natuurlik’


James en André (Foto: Facebook)

James en André (Foto: Facebook)

Vinkel en Koljander. Boeretroos en beskuit. Sondagmiddae en middagslapies. Nes dié elemente nie van mekaar geskei kan word nie, is die duo en musikale broers, James en André, onafskeidbaar van mekaar. En sáám maak hulle musiek wat dikwels op verskeie treffersparades pryk.

Die groep is reeds met die immergroen musiekgroep Groep 2 vergelyk, terwyl ander musiekliefhebbers dalk spore van Simon & Garfunkel in hul musiek sal hoor.

Hul jongste uitreiking, Mallemeule, volg op hul vorige gewilde CD, Volmaakte Klanke.

Dié duo se styl word gekenmerk deur opbeurende akoestiese klanke – met ʼn tipiese country- en blue grass-inslag.

Albei is bedrewe sangers en kitaarspelers en tree sedert 1999 as duo op.

“Die lewe inspireer ons albei en ons inspireer ook mekaar. Ons vra die mense om te vergeet van al die negatiewe in die lewe, soos pryse wat styg, politiek en die taxi’s wat so mooi bestuur, want wat ons vir hulle bied, kom uit die hart en is volmaakte klanke.

“Die album is 100% eg aan James en André. Ons probeer nie soos enigiemand anders klink nie. Ons doen net waarvoor ons lief is. Die vernaamste les wat ons tot dusver in die musiekbedryf geleer het, is juis om nederig te bly,” het hulle gesê.

Dit is hierdie eienskap – én ʼn onopgesmukte, natuurlike aanslag – wat tot hul gewildheid bydra.

Die agt oorspronklike liedjies uit James se pen besing die lewe en sy herinneringe met borrelende nostalgie.

Die duo verleen ʼn vernuwende interpretasie aan twee tydlose gunstelinge met hul vertolking van Laurika Rauch se “Stuur groete aan Mannetjies Roux” (deur Christopher Torr) en Anneli van Rooyen se “Neem my saam”.

En dan spog hulle met uitklopvertolkings van Elivs Presley se “Don’t be Cruel” en Paul Simon se “Cecilia”.

Met Andrew Roos se verwerkings en musikale ondersteuning deur Vinnie Henrico en Johan Rautenbach. Tromme, elektriese kitaar, klavier, trekklavier, orrel en die melodika verseker klankverskeidenheid.

Vir meer inligting, besoek James en André se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.