Luister: Jan Bloukaas, Biggy en Katinka almal op een verhoog

Jan Bloukaas (Foto: Facebook)

Jan Bloukaas, Biggy en Katinka Oosthuizen gaan saam met ander bekendes in Afrikaanse musiek ʼn verhoog deel by die In Afrikaans-konsertreeks wat volgende maand in Hartenbos plaasvind.

Sangers soos Elandré, Leah, Kurt Darren, Jo Black, Karen Zoid, Francois van Coke, Spoegwolf en Early B maak ook ʼn draai by dié fees.

Jan Bloukaas, van “Kaas bra”-faam het aan Maroela Media vertel dat In Afrikaans ʼn konsert is waarna hy spesifiek uitsien omdat die gehoor altyd in ʼn goeie bui is.

“Dit is lekker om in die middel van die jaar ʼn vertoning te gaan kyk, maar by In Afrikaans wéét jy almal is op vakansie. Dit skep heeltemal ʼn ander gevoel en niemand is in ʼn slegte luim nie, almal is net daar vir ʼn lekker tyd.

Biggy (Foto: Facebook via @BiggyMusiek)

“Die vertoning sélf het ʼn baie lekker gevoel; almal bring hul stoele en komberse en span uit in die amfiteater. Dis nie ʼn geval waar jy in ʼn teater gaan sit nie. Daar is lekker kosstalletjies en almal is op hul gemak,” vertel hy.

Vanjaar is dit Jan Bloukaas se derde keer op die In Afrikaans-verhoog en hy sê hy vermoed dit gaan groter as voorheen wees.

“Die eerste keer wat ek daar was, was dit die grootste vertoning waarin ek nog ooit opgetree het. Die tweede keer was nog groter en ek dink die derde een gaan nóg groter wees.”

Katinka Oosthuizen (Foto: Instagram)

Biggy, wat vanjaar die Afrikaanse musiekmark met “Dames” ingevaar het, gaan ook vir die eerste keer by dié fees te sien wees.

“Ek het nog net foto’s gesien van die vertoning, en dit lyk baie groot. Dit gaan ʼn ervaring en ʼn half wees. Ek is op my senuwees, maar ook opgewonde,” sê hy.

Katinka Oosthuizen, ook bekend as Katinka die Kat, beoog ook om mense vanjaar te verras omdat sy sélf ook die mikrofoon gaan aandurf met ʼn liedjie saam met Jan Bloukaas.

“Ek stres nogal want ek is nie bekend vir my singery nie, maar ek sien baie uit om saam met Jan Bloukaas te sing. Ek het nog nooit so ʼn soort vertoning gehad nie, so ek is op my senuwees, maar opgewonde,” sê sy.

Katinka en Jan Bloukaas werk al geruime tyd saam aan ʼn kletsrym-liedjie, terwyl Jan Bloukaas ook saam met Biggy en Early B ʼn liedjie opgeneem het. Albei liedjies sal in die konsertreeks gesing word.

Jan Bloukaas sê vanjaar is vir hom ekstra spesiaal, veral omdat hy van sy nuwe musiek gaan sing.

“Dit is die eerste keer in twee jaar wat ek iets nuuts uitbring, so ek sien uit om te sien hoe die mense op my nuwe musiek gaan reageer,” sê hy.

In Afrikaans vind van 21 tot 28 Desember in Hartenbos plaas. Kaartjies kan by iTickets gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karli ·

Die wooden mic contestants kry ook 45min op stage lyk dit my.

Well done ·

Jong mense wat nuwe musiek maak… MUCH NEEDED… Sien uit om veral die een te hoor van Katinka en die Flooze saam. Volg nou al ‘n ruk vir Katinka op Instagram.. en ek LOVE haar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.