Luister: Jan Rhaap eerlik en rou

Jan Rhaap, die boer van die Noord-Kaap wat opslae in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak het met sy debuutalbum Laaste Kans, en opvolgalbum Opge-Rhaap, se derde vollengte album getiteld Wat is mens? het onlangs die klankgolwe getref.

Jan vertel in ʼn ateljeeonderhoud aanhangers kan, soos met die vorige twee albums, weer sy kenmerkende eerlike en rou lirieke verwag.

“Ek is baie trots om te sê dit is die eerste album van die drie waar elke liedjie uit my eie pen is. Van hulle het ek self geskryf en van hulle saam met ʼn vriend. Dit is my tipiese skryfstyl van liedjies wat stories vertel oor dinge wat ek persoonlik ervaar, so elke liedjie het ʼn baie spesiale boodskap en ʼn plekkie in my hart.”

Volgens Jan is hy nie ʼn konsepskrywer nie en is die skryf van ʼn album vir hom altyd ʼn lang proses. “Ek besluit nie om weg te breek van my normale roetine af om te skryf nie. Ek skryf nie liedjies rondom konsepte nie. Ek skryf bitter stadig, want daar sal byvoorbeeld twee maande verbygaan waar ek glad nie skryf nie, en dan ervaar ek iets of voel iets en dan skryf ek ʼn liedjie daaroor.

“Vir my om ʼn album te skryf is regtig ʼn lang proses, omdat ek letterlik wág vir die liedjies. Twee en ʼn half jaar het verloop sedert Opge-Rhaap uitgebring is, maar ek kan met eerlikheid sê elke liedjie op Wat is mens? is ʼn stukkie van my.”

Jan glo dat hy sedert die uitreiking van sy vorige album baie gegroei het – nie net as kunstenaar en liedjieskrywer nie, maar ook as mens. “Ek is baie rustiger oor wie en waar ek is as mens. Baie van die liedjies handel ook oor die natuur. Ek wat op die platteland woon, is bevoorreg om in die rustigheid te wees, maar ek het in Pretoria grootgeword, so ek ken die stadslewe.

“Ek dink dit is belangrik om so van tyd tot tyd net stil te sit in jou tuin of waar ook al en net te luister na blare wat waai in die wind.”

Daar is 12 oorspronklike liedjies op Wat is mens? “Ramskilpad” is ʼn tong-in-die-kies‑liedjie wat oor ʼn mannesamekoms handel. Met “Byt vas” en “Ruk die pleister af”, maak Jan sy hart oop en sing hy van moed hou en vasbyt – vir die lewe asook die liefde.

“Plattelandse droom” pas nie net perfek op die album nie, maar ook by hom as mens. “As jy die Griekwaland se wêreld ken, sal jy weet dat dit reën is wat jou drome waar maak…” sê Jan.

““Afrika se tent” is ʼn liedjie waaroor ons ongelooflik opgewonde is. Ek het nog nét komplimente daarvoor gekry. Ek het dié liedjie saam met ʼn vriend, Lourens Wessels, geskryf. Dit handel oor ʼn toer saam met my kitaarspeler. Vir my is elke naweek ʼn toer omdat ek doer in die Noord-Kaap bly en as ek Gauteng toe gaan of Kaap toe, is dit agt ure se ry weerskante toe. So ek ry elke naweek regtig ver ry vir optredes. Ons woon in ʼn pragtige land en is bevoorreg om baie daarvan te sien.”

Wat is mens? is beskikbaar op alle digitale musiekplatforms sowel as by groot musiekhandelaars landwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.