Luister: Janie Bay ʼn alternatiewe, vars bries in Afrikaans

Janie Bay kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Janie Bay kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die blondekop-sangeres Janie Bay is bekend vir die snitte wat sy al saam met bekende name in die Afrikaanse musiekbedryf soos Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, Jack Parow, Jan Bloukaas, Bouwer Bosch en Dawie de Jager opgeneem het.

Bay, wat saam met De Jager die liedjie “Stroomop my mens”, asook haar eie weergawe van die alombekende “You are my sunshine” vir die Ivan Botha-lokettreffer Stroomop opgeneem het, se musiek kan ook gehoor word in die Afrikaanse rolprente Mooirivier en Vir altyd.

Sy het pas haar eerste amptelike Afrikaanse solo-enkelsnit, “Amper daar”, uitgereik en dié snit, wat saam met Kennedy, Fred den Hartog en Peach van Pletzen geskryf en vervaardig is, is geskryf uit Bay se persoonlike ervaring uit haar verhouding van die afgelope vyf jaar met die musikant en vervaardiger, Deon Dee.

Dee speel onder meer kitaar vir die bekroonde en geliefde Afrikaanse sanger Jo Black en is ook deel van die groep The Free Beer Cover Band.

“Die liedjie is ʼn baie egte weerspieëling van hoe ʼn verhouding regtig is,” vertel Bay in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media. “Dit is nie net die mooi wat jy sien in ʼn romantiese fliek of so nie. Ek wou graag iets skryf oor wat almal ervaar. Daar is een liriek uit die liedjie wat sê: ‘Jy maak my soms kwaad, dis maar net hoe dit is’. Ons maak mekaar kwaad, ons maak mekaar gelukkig.”

Haar debuut-vollengtealbum, Miscellany, is in 2017 vir ʼn Sama-toekenning benoem. Sy vertel namate sy deur haar samewerkingsnitte met ander bekende kunstenaars ʼn groter aanhangersbasis in Afrikaanse musiek gebou het, het die vraag na ʼn eie Afrikaanse snit al hoe groter geword. “Dit was die volgende natuurlike stap vir my om ʼn snit in Afrikaans uit te bring.”

Bay vertel sy volg graag internasionale produksies met haar liedjies en hou daarvan om snitte te skryf wat luistervriendelik is vir ʼn groot gehoor. “Ek dink as ons oorbeweeg na ʼn vollengtealbum in Afrikaans sal my klank ʼn bietjie meer alternatief wees. Ek dink daar is ʼn groot gaping daarvoor vir ʼn kunstenares in die bedryf. Ek volg maar net my instink en skryf wat ek voel eg is aan myself, asook die klank wat ek al oor die jare ontwikkel het.”

Die musiekvideo vir “Amper daar” is naby Broederstroom geskiet en beeld ʼn roadtrip uit wat volgens Bay ook ʼn metafoor vir ʼn verhouding is.

“Die video begin waar die motor reeds aan die loop is en hy bly aan die loop. Daar is klein metafore in die video wat ʼn mens nie noodwendig sal optel nie, maar klein goedjies soos skote wat uit fokus is omdat dit is hoe dit soms in ʼn verhouding gaan. Die reën, waaroor ons aanvanklik skepties was, het toe eintlik goed gewerk aangesien daar soms ʼn bietjie slegte weer ook in ʼn verhouding is.”

“Amper daar” is beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms.

20 vinnige vrae aan Janie Bay

Janie Bay beantwoord Maroela Media se 20 vinnige vrae!Lees meer hier: https://maroelamedia.co.za/vermaak/musiek/luister-janie-bay-n-alternatiewe-vars-bries-in-afrikaans/

Posted by Maroela Media on Wednesday, June 12, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.