Luister: Janie Bay op fees ná verhoogdroogte

Janie Bay. (Foto: Altin Ferreira)

Ná ʼn twee jaar lange verhoogdroogte weens die Covid-19-pandemie staan die Kaapse sangeres Janie Bay eersdaags op die Proe’toria-fees se verhoog in die ooste van die Jakarandastad.

Hoewel Bay altyd ʼn Kaapse nooi in haar hart sal bly, het sy haar voete in Pretoria gevind nadat sy en haar kêrel, die musikant en vervaardiger Deon Dee, tydens die inperking na dié Gautengse stad verhuis het.

Sy vertel in die Maroela Media-ateljee sy sien uit daarna om by die Monte De Dios-venue in die ooste van Pretoria musiek te maak saam met kunstenaarsvriende soos Early B. Hulle beplan om hulle treffers “My lief” en “Die heelal” uit te voer.

Sy sal ook liedjies in haar jongste album, Prisma, sing, soos “Lewe” en “Sweef”. “Ek is baie bly my album is nog op mense se lippe en die jongste enkelsnit, ‘Kalmeer’, pryk nog steeds op etlike treffersparades,” vertel Janie.

Ander kunstenaars wat op die Proe’toria-verhoog te sien sal wees, is Martin Bester en sy orkes, Ampie, Jo Black, Karen Zoid, Die Heuwels Fantasties, Riana Nel, Refentse, Jemma Catherine en Dagbreek.

Bay vertel sy beplan om vanjaar nog meer musiek te skryf en sy skryf ook vir ander kunstenaars. Daar is ook ʼn internasionale samewerking waarop sy hoop.

“Ek is mal daaroor om liedjies te skryf en om dit vir ander kunstenaars te doen is iets wat nog altyd in my agterkop is. Daar is ook vanjaar weer ʼn hele klomp vertonings bevestig, wat skoon vreemd voel ná die stilte van die twee jaar wat ons gehad het weens die pandemie. Ek is baie opgewonde daaroor; dit gaan sommer weer vars en nuut voel.”

Terwyl die rits gesogte kunstenaars se gewilde treffers op die verhoog weerklink, gaan daar ook onder meer boetiekjenewer, stalletjies met niswyne, konfyte en bier geproe kan word en gourmet-kosstalletjies sal sorg vir heerlike eetgoed.

“Ek eet nie vleis nie, so dit is altyd vir my interessant om op feeste te sien watter kos hulle beskikbaar het vir mense soos ek,” sê Bay.

Die gewilde JacarandaFM-persoonlikheid Thabiso Khambule is die naweek se gasheer en talle pryse gaan aan gelukkige feesgangers weggegee word. Die kleinspan kan ook na hartelus in ʼn veilige speelpark baljaar waar hulle die hele dag besig gehou sal word.

“Die fees bied beslis iets vir almal, so bring jou oumas en jou kinders en kom geniet die dag saam met ons,” sê Bay.

Sy is Sondag 6 Maart op die Proe’toria-verhoog te sien. Die fees skop egter al op Saterdag 5 Maart af. Die feestye is van 10:00 tot 19:00 en die hekke sluit om 21:00 en op Sondag om 18:00.

Whitley Neill Handcrafted Dry Gin, deel van die Halewood-groep, is vanjaar se amptelike naamborg wat Proe’toria moontlik maak in samewerking met EPH Group, Maroela Media, The Marketing Zoo en Caring Daisies.

Monte De Dios in Pretoria is slaggereed om op 5 en 6 Maart vanjaar die Proe’toria-fees aan te bied. (Foto: Facebook/Proe’toria)

Kaartjies vir Proe’toria verkoop reeds vinnig met spesiale BBP-pakkette wat nog tot middel Februarie teen ʼn afslagprys van R750 beskikbaar is. Dié pakket sluit BBP-toegang, BBP-parkering, middagete, onbeperkte water en ʼn bottel wyn in.

Daar is slegs ʼn beperkte aantal van dié kaartjies beskikbaar en dit is geldig vir al twee dae van die fees. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by Tixsa.

Besoek Proe’toria op FacebookInstagram of Twitter vir meer inligting.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Janie Bay.

WEN: Een gelukkige leser kan ʼn dubbel-BBP-kaartjie na die Proe’toria-musiekfees op Saterdag 5 en Sondag 6 Maart wen. Die kaartjies sluit BBP-toegang, BBP-parkering, middagete, onbeperkte water en ʼn bottel wyn in. Die kompetisie sluit Donderdag 24 Februarie om middernag en die wenner sal op Vrydag 25 Februarie via e-pos in kennis gestel word.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Een deelnemer word lukraak as wenner aangewys.
  • Die organiseerders sal die kaartjies direk per e-pos na die wenners stuur en alle verdere navrae hanteer.
  • Elke wenner ontvang ʼn dubbelkaartjie om die Proe’toria-musiekfees op 5 en 6 Maart by Monte De Dios by te woon.
  • Die beoordelaars se besluit is finaal en geen korrespondensie sal gevoer word nie.
  • Die pryse kan nie vir kontant geruil word nie.
  • Wenners is self verantwoordelik vir enige koste om die geleentheid by te woon, soos reis, verblyf, etes en drinkgoed.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Maroela Media mag met deelnemers kontak maak vir vrywillige ondersteuning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.