Luister: Janie Bay ‘vinniger as lig’ met jongste uitreiking

Janie Bay. (Foto: Altin Ferreira)

Janie Bay wou met haar jongste album, getiteld Prisma, skryf oor verskillende goed wat mense deurmaak en emosies wat mense ervaar.

Die jongste uitreiking vanaf dié album, “Kalmeer”, handel oor die depressie en angstigheid wat die pandemie teweeg gebring het en die vinnige tempo waarteen alles deesdae beweeg.

“Die afgelope twee jaar was vir baie van ons uiters uitdagend en ek wou dit in ʼn liedjie vasvang. Soms voel jy ʼn aanval op jou aankom, en dit is dalk iets waaraan jy nie gewoond is nie. Dit is ʼn ware stryd wat baie van ons voer,” vertel Janie in die Maroela Media-ateljee.

Hoewel die liedjie gewigtige temas aanraak, is dit geskryf met ʼn ritmiese popklank waarop mense steeds kan dans en kuier, vertel Janie.

“Kunstenaars soos Lady Gaga skryf oor swaar temas, maar met ʼn melodie en ritme waarmee mense hulle steeds kan vereenselwig.”

Die liedjie spog met ʼn splinternuwe musiekvideo wat pas uitgereik is. Die video is verfilm deur Damiane van Reenen met Marguerite van Eeden as vervaardiger.

“Damiane het ook ‘My lief’ se video gemaak en hy het ʼn interessante manier om na dinge te kyk. Hy daag my uit en laat my gedagtes oor visuele aspekte uitbrei,” sê Janie.

Janie Bay se nuwe album ‘Prisma’ is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Die video is in die Kaap verfilm. “Ons het baie van die industriële gevoel gebruik gemaak en hoofsaaklik in die stad geskiet. Daar is ook pragtige skote wat ons van agter op ʼn bakkie geneem het. Ek is opgewonde oor die video en kan nie wag dat mense dit sien nie.”

Prisma bevat sewe snitte en elke snit het sy eie tema en gevoel. “Ek het geskryf oor familie, liefde, motivering en die moeilike dinge wat ons elke dag in die gesig staar. Ek wou graag ʼn omvattende projek saamstel en mense op ʼn reis saam met my neem. Dit is altyd vir my belangrik dat mense hulle kan vereenselwig met my musiek.”

Prisma en “Kalmeer” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Kalmeer”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.