Luister: Jannie du Toit vier fees oral in SA

Die sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit. (Foto: Verskaf deur die FAK)

Die sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit. (Foto: Verskaf deur die FAK)

Die geliefde musikant Jannie du Toit, wat allerweë beskou word as ʼn legende in die Afrikaanse musiekbedryf, is vanjaar op talle kunstefeeste oral in Suid-Afrika te sien.

Du Toit, wat onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer is vir sy 50 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf, sal vanjaar onder meer te sien wees tydens die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela (Nelspruit), Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein, die Makhanda (Grahamstad) National Arts Festival en Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom.

Gautengers wat nie dié kunstefeeste kan bywoon nie, hoef egter nie uitgelaat te voel nie. Du Toit sal in Julie ook sy sogenaamde Kunstefees in die kleine by die Atterbury-teater in Pretoria aanbied.

Du Toit vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media hy sal tydens dié spesiale dag drie van sy gewildste musiekproduksies in verskillende tydgleuwe by dié toonaangewende teater uitvoer. Die produksies sal ook tydens dié konserte voor gehore vir kykNET opgeneem word.

Drie van die beste

Die eerste produksie wat uitgevoer sal word, is Oesjaar. Oor die afgelope paar jaar het Du Toit hom daarop toegespits om musiek van sy gunstelingmusikante te sing, maar het hy ook verlede jaar ʼn album, met tien oorspronklike snitte, vrygestel getiteld Oesjaar 2018.

Tydens die Oesjaar-uitvoering sal Du Toit se oorspronklike werke gehoor kan word wanneer hy saam met die musikante Susan Mouton op tjello, Chanie Jonker op klavier en Theuns Botha op tromme op die verhoog sal wees.

“Ek gebruik die wingerd as ʼn beeld van die gawe wat ek van bo gekry het,” vertel Du Toit. “Ek glo vas dat die liewe Here hierdie wingerd vir my present gegee het. Hy het gesê: ‘Ou maat, kom, daar is edelvrugte beskikbaar, daar is goeie lote en jy moet elke dag hard werk en gaan leer hoe ʼn mens wyn aanmekaar sit’. Hoe om, as jy eers die druiwesap het, dit in goeie wyn om te sit. Ek werk al vyf dekades hieraan.”

Hy voeg by dat een van die oorspronklike snitte wat vir sy jongste produksie geskryf is, opgedra is aan sy musiekmaat van 25 jaar, Christa Steyn, wat sewe jaar gelede aan kanker oorlede is. Hy het ook ʼn liedjie opgedra aan ʼn koffiewinkel in Melville waar hy en sy goeie vriend Lochner de Kock elke oggend koffie gedrink het. Nog ʼn snit is opgedra aan sy vrou, Therina, met wie hy verlede jaar getroud is.

Die produksie, Bonjour Monsieur Brel word ná Oesjaar uitgevoer. Tydens dié produksie sing Du Toit in Afrikaans, Engels, Frans en Nederlands. Du Toit vertel dat hy nie probeer om die verhaal van Jacques Brel te vertel nie, maar eerder om sy liedere te sing en aan te haal uit sy tekste.

“Dié man het baie spesifieke gedagtes in sy kop gehad en dit was nie sommer net sulke woordjies wat afgerammel en herhaal is nie. Hy het werklik besondere dinge aangeroer en hy was ʼn ware digter en filosoof,” sê Du Toit.

“Hy is al 40 jaar gelede oorlede, maar sy werk leef voort en dit is verskriklik lekker om dit te sing. Chanie sal my op die klavier begelei en Susan sal ook met haar tjello op die verhoog wees. Chanie gryp ook elke nou en dan die trekklavier en dan kry jy heerlike, kontinentale klanke.”

Die derde en laaste produksie wat op dié Kunstefees in die kleine te sien sal wees, is die gesogte produksie Kiekies – Lucas se liedjies, waar Du Toit saam met die kitaarspeler Thean Kotze musiek van sy ontslape boesemvriend, Lucas Maree, uitvoer. Dié produksie was ook vroeër vanjaar tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien.

“Die musiek wat [Maree] vir ons nagelaat het, is uit die boonste rakke. Thean is die stigterslid van Ses Snare en ʼn uitstekende kitaarspeler wat saam met my tydens die produksie hulde bring aan Lucas. In dié geval vertel ons wel stories oor Lucas, want hy het so ʼn groot hart gehad. Hy was so goed vir mense en so goed vir my dat ʼn mens nie anders kan as om bietjie stories te wil vertel oor hom nie.”

Hy voeg by dat Kotze ook ʼn kortverhaal uit Maree se pen voorlees tydens die produksie. “Die storie handel oor een aand in die Karoo. Dit is absoluut hartroerend. Thean sing ook ongelooflik baie soos Lucas. Hy laat my partykeer op die verhoog koue rillings kry en hy is eintlik die enigste kitaarspeler wat ek al teëgekom het wat Lucas se liedjies presies speel soos Lucas dit gespeel het.”

Kunstefees in die kleine word op Sondag 14 Julie by die Atterbury-teater aangebied. Oesjaar sal om 12:00, Bonjour Monsieur Brel om 15:00 en Kiekies – Lucas se liedjies om 18:00 in die teater aangebied word.

Kaartjies vir Kunstefees in die kleine is aanlyn by iTickets beskikbaar. Kaartjies vir een optrede kos R150 per persoon, vir twee optredes R220 per persoon en vir drie optredes R270 per persoon.

Daarby is ʼn spesiale aanbod van die gewilde restaurant Stephnie’s in die Lynnwood Bridge beskikbaar: elkeen wat twee of meer van die vertonings bywoon, kwalifiseer vir een van 50 afslagbewyse vir daardie dag. Dit behels 15% afslag op hulle gewone spyskaart. Besprekings vir etes moet ook vooraf by 012 348 8943 gedoen word.

Du Toit fees voort

Jannie du Toit op die verhoog. (Foto: Facebook via Jannie du Toit)

Jannie du Toit op die verhoog. (Foto: Facebook via Jannie du Toit)

Du Toit sal deur die loop van die jaar ook by vier van Suid-Afrika se grootste kunstefeeste te sien wees.

Einde Junie is hy by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees saam met Anton Goosen en Coenie de Villiers te sien in die musiekproduksie, Musiek en Liriek – 40 jaar later. Dié produksie word uitgevoer ter herdenking van ʼn uitsonderlike oomblik in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis waarin hulle al drie gedeel het. Die sogenaamde Musiek en Liriek-beweging het ʼn onuitwisbare invloed op Afrikaanse musiek gehad en was bepalend in al drie dié kunstenaars se solo-loopbane.

Gedurende dié fees tree Du Toit ook op die KMI Airport Kunsteverhoog op saam met Mouton, die eerste tjellis van die Johannesburgse Filharmoniese orkes.

Du Toit sal ook vroeg in Julie by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein te sien wees met Oesjaar, saam met Mouton op tjello, Jonker op klavier en trekklavier en Botha op tromme.

Daarna beweeg Du Toit en sy orkes na Makhanda (Grahamstad) waar hulle op die Makhanda National Arts Festival Bonjour Monsieur Brel in die Beethovensaal, een van die beste klassieke sale by dié fees, sal aanbied.

Oesjaar sal ook by die Aardklop Nasionale Kunstefees in September op Potchefstroom uitgevoer word.

Besoek Jannie du Toit se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.