Luister: Jay oor Eden, nuwe musiek en plaasmoorde

Jay du Plessis (Foto: Facebook)

Tuis is hy die pa van vier woelwaters en ʼn man vir die vrou van sy drome, sê die sanger Jay. Maar op die verhoog is hy die voorman met een doel voor oë: om die gehoor, een en almal, op hul voete te kry en ʼn gróót partytjie te hou.

Hoewel aanhangers nou onlangs danksy die Via-program Jay en die boys ʼn meer diepsinnige blik op die sanger gekry het, ken hy sy handelsmerk soos die palm van sy hand: Gee hom ʼn mikrofoon, en hy hou die jol van die jaar.

Dis waarskynlik daarom dat Jay se jongste album, So lank sal ek jou liefhê, onlangs tydens die Ghoema-toekennings met die beste pop-album van die jaar-toekenning bekroon is. Hy het dié toekenning met Kurt Darren gedeel.

Dit was nie die enigste goeie nuus wat dié album, waarvoor aanhangers langer as vier jaar moes wag, gebring het nie: So lank sal ek jou liefhê het ook verlede jaar binne net ses weke ná die uitreikingsdatum goue verkoopstatus behaal.

“Dit was vir my die grootste voorreg om dié toekenning te ontvang,” vertel hy. “Ná byna twee dekades in die bedryf bly dit steeds lekker vir ʼn kunstenaar om raakgesien te word. Dit beteken iemand het na jou musiek geluister en gedink ‘dit is genoeg vir ʼn toekenning dié’, en dís ʼn voorreg.”

Dié album bevat snitte eie aan die Jay-handelsmerk, sê hy. Die meeste snitte is gemik daarop om aanhangers te laat dans en te laat vergeet van enige ellendes of bekommernisse.

Jay sê hy het jare gelede, toe hy maar nog ʼn groentjie in die bedryf was, juis waardevolle raad by die sanger Steve Hofmeyr gekry oor hóé om ná twee dekades in die bedryf steeds sukses te behaal.

Jay en Lianie May (Foto: Afrikaans is Groot)

“Wat my betref, is Steve een van die mense na wie opgekyk moet word omdat hy al so lank so suksesvol in die bedryf is. Ek het hom baie jare gelede gevra wat sy raad is om vars, relevant en nuut te bly, en ek sal nooit vergeet wat hy gesê het nie. Steve het gesê dit wat reeds werk en beproef is, moenie verander word nie. Jou eerste musiek en die styl is die rede hoekom mense in die eerste plek van jou begin hou het, en dít moet dieselfde bly. Ja, dit is so dat tye verander en musiek meer modern word, maar die kern van dít wat jy doen, moet dieselfde bly.”

Hy sê dit is juis dié raad wat daartoe gelei het dat hy nog al die jare opgewekte musiek sing. “Ek sing nog al die jare oor vry en dans en al daai lekker dinge omdat dit iets is waarvan mense hou. Dalk is dit soms bietjie zef, maar dit sorg steeds vir ʼn lekker jol. Ek verkies om dit te doen, selfs al is ek nou bietjie ouer omdat dit vir my eg bly aan my eie energie en aan wie ek is,” sê hy.

Met die nuwe album het hy egter doelbewus probeer om ʼn meer volwasse klank in sommige van die snitte in te bring. “Hoewel dit so is dat ek ʼn spesifieke handelsmerk het, is daar mense wat dit ook geniet om my te hoor ballades sing – of selfs net liedjies met meer diepte. Ek het daarom tog aandag gegee aan my kontemporêre sy. Ek dink een so ʼn liedjie op die album is ‘So lank sal ek jou liefhê’. Die liedjie gaan oor die hele idee van oneindige liefde. Daar is net een manier om dit te ervaar en dis met jou kinders. Jy kan nie daardie liefde vir enigiemand beskryf nie. En die liedjie wys dalk ʼn ander kant van my as die meeste van my musiek. Ek verstaan tog dat mense my bespreek om partytjies te hou en nie om vir hulle ballades te sing nie.”

Jay en Mia en hul seuns, Aidan (10), Samuel (8), Luka (4) en Jamie (dié naweek een jaar oud) (Foto: Facebook)

Die musiekvideo vir “So lank sal ek jou liefhê” is meer as ʼn halfmiljoen keer op YouTube gekyk. Die musiekvideo vir die liedjie “Lê bietjie langer” is in minder as ʼn maand reeds meer as 175 000 keer gekyk.

Harte was aan flarde toe die musiekgroep Eden, waarvan Jay, Johan Vorster, Paulo Azevedo en vroeër jare Sean Else lede was, aangekondig het dat hul paaie vir eers gaan skei. Selfs ná sy derde solo-album brand aanhangers steeds om dié groep saam te sien – en dís nie heeltemal van die tafel af nie.

“Ek het al in die bedryf geleer om nooit te sê ‘nooit’ nie,” sê hy. “Die kanse dat ons weer sal saamsing, is egter baie skraal omdat ons elkeen verskillende rigtings ingeslaan het. Ek dink daar is in dié stadium net glad nie tyd om so iets aan te pak nie, en elkeen van ons het buitendien nou ons eie gesinne ook. Eden was 17 jaar my lewe – ʼn tyd waartydens die groep verskeie metamorfoses ondergaan het. Om dit nou weer te begin is ʼn groot uitdaging, maar ʼn mens kan nooit sê dit sal nooit weer gebeur nie.”

Buiten sy solo-loopbaan en Eden, is die sanger se duetalbums saam met Lianie May ook ʼn wegholsukses. Nog geen planne is beraam vir ʼn nuwe duetalbum saam met sy Bonnie nie, maar dié album sal beslis in die toekoms volg, sê hy.

Jay en Lianie May (Foto: Stephen Elliott)

“Ek en Lianie show nog gereeld saam en dan gig ons oor die hele land heen. As mense ons saam bespreek, is dit altyd wonderlik om saam te werk. Ek geniet Lianie vreeslik, sy is ʼn wonderlike mens en dit is altyd vrek groot pret om saam te toer.”

Dis nie nét musiek waaroor hy opgewek praat nie. Die sanger sê hy is baie passievol oor die landbougemeenskap – veral met die huidige toename in plaasaanvalle en -moorde op Suid-Afrikaanse plase.

“Ek het op ʼn plaas grootgeword en probeer om my kinders soveel moontlik op die plaas te kry,” vertel hy. “Wat tans op ons plase aangaan, is iets wat my baie na aan die hart lê. ʼn Boer het reeds nie ʼn maklike lewe nie, maar nou is daar baie buitefaktore wat ʼn boer se lewe selfs nog moeiliker maak. Ek is passievol daaroor om hierdie dinge stop te sit. Ek werk aktief aan bewusmaking oor plaasaanvalle en -moorde omdat dit iets is wat nou tot ʼn einde moet kom. Daar is te min mense wat besef dis ʼn werklikheid – iets wat nou in die wiele gery moet word.”

Vir meer inligting, besoek Jay se amptelike Facebook-blad. Laai sy album op iTunes af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.