Luister: Jennifer Zamudio reeds twee dekades ʼn Afrikaanse musiekliefling

Jennifer Zamudio kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Twintig jaar het reeds verloop sedert die sangeres Jennifer Zamudio die musiekbedryf betree het as die “singende pers sensasie”, soos die media en stoere aanhangers haar destyds gedoop het.

Intussen het sy op honderde verhoë gestaan, 12 vollengte albums die lig laat sien en kon sy talle gesogte musiektoekennings huis toe neem.

“ʼn Mens besef nie hoe vinnig tyd verby gaan nie. Dit voel asof ek net nou die dag my 15 Jaar Spesiale Uitgawe-album uitgebring het en hier staan ons vyf jaar later,” vertel Zamudio oor haar twintigste jaar as een van Suid-Afrikaners se lieflingsangers.

Zamudio, wat op Gansbaai gebore is en op Malmesbury gematrikuleer het, se debuutalbum Leef het in 2000 die pas aangegee vir die res van haar sangloopbaan. Sy hou haar aanhangers al vir twee dekades op hul voete met haar spontane Weskus-humor en energieke styl op die verhoog.

“Dis omdat ek so passievol is oor wat ek doen en ek glo dit is wat ek geroep is om te doen. Dit is ʼn element wat jy nie kan aanleer nie, jy kan nie maak asof jy ʼn passievol is oor iets nie. Ek glo in wat ek doen en solank as wat daardie aspek behoue bly, en vir so lank as wat dit fisiek moontlik is, sal ek myself so kan uitleef,” sê sy.

Volgens Zamudio kan sy nie ʼn gunstelingalbum uit haar versameling uitsonder nie, maar glo sy haar jongste album, Goud is my woorde, is haar beste werk tot op hede. Dié album is in 2018 uitgereik. “Ek dink as jy nie dink jou laaste werk was die beste nie, dan was daar geen mate van groei nie.”

Sy vertel dat sy haar 20ste jaar in die bedryf wil vier deur van haar ouer snitte weer terug te bring na die verhoog toe en beplan sy om in haar mondigwordingsjaar in die bedryf ʼn album uit te reik.

“Hierdie jaar wil ek net ʼn bietjie vry wees. Ek het ook twee duette opgeneem saam ander kunstenaars, wat iets is wat ek nie gereeld doen nie.”

Sy vertel dat snitte waarby sy ʼn prentjie in haar kop kan visualiseer waar sy dit sing, gewoonlik eerste haar albums haal. “Ek het nog altyd staatgemaak op daardie gedeelte van my intuïsie. As ek dit nie kan sien nie, gaan ek dit nie kan sing of met oorgawe kan vertolk nie.”

Zamudio som haar loopbaan tot dusver op met ʼn paar wyshede wat sy oor die jare geleer het. “Moenie te veel fokus op dinge waaraan jy niks kan verander nie. Hou jou fokus op dit wat jou doel is en moenie spoed verloor nie – niks in die lewe is maklik nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Slegte ondervinding met haar gehad. Sy het kort op die toneel verskyn. Sou by ‘n funksie sing. Sy het om een of ander rede nie opgedaag nie. Ons het haar vooraf betaal en nooit gesien nie en nooit die geld terug gekry nie. maak ‘n mens vertroue verloor.

Talitha ·

Vind dit baie moeilik om te glo. Sy is die vriendelikste, mees opregte afrikaanse kunstenares wat daar is. ‘n Saak het altyd twee kante.

Jennifer ·

Goeie dag Leon, jy gaan asb vir my spesifieke detail moet gee tov datum & geleentheid/venue want ek dink jy mag my moontlik verwar met iemand anders of ek was nie bewus van die bespreking nie omrede dit moontlik deur ‘n 3de Party hanteer was. Die scenario wat jy hierbo gee het nog nooit met my in 20 Jaar gebeur nie…..ek hoor graag van jou! Groetnis, Jennifer

Phil ·

Ek tree more saam met Jennifer op by die Karoofees in Brakpan, sien vreeslik daarna uit om haar te ontmoet en te gesels. Sy lyk na n baie aangename mens, en haar sangloopbaan van 20 jaar is beslis n hoogtepunt in haar lewe. Sy mag maar sing, veral haar nuutste CD is ongelooflik mooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.