Luister: Joe Niemand volg paaie waarop die Here hom lei

Joe Niemand.

In Oktober 2018 het die musikant Joe Niemand ervaar hoe die Here hom weglei van die groot verhoë in Suid-Afrika na onder meer die staatsteater in Israel.

Joe vertel in Maroela Media se ateljee hy volg getrou die paaie waarop die Here hom lei – al was die taak om binne slegs vyf maande ʼn musiekblyspel te skep wat in Israel opgevoer is.

“Ek het ervaar die Here sê vir my ek moet alles los waarmee ek besig is en in 2019 het ek die musiekblyspel geskep. Dit moes binne vyf maande in Israel op die planke wees en al het dit aanvanklik gelyk of dit nie op enige manier moontlik is nie, het dit wel gebeur.”

Joe het in sy musiekloopbaan van sowat twee dekades meer as tien vollengte albums uitgereik, waarvan net die eerste een opgeneem is voordat hy die Here geken het.

“My albums verteenwoordig nog altyd wie ek is en waarheen ek op pad is. Daar was beslis nie iets of iemand wat my beeld geskep of my rigting bepaal het nie. Die tweede album wat ek opgeneem het, is getiteld Reborn. Dit het gegaan oor die aanloop tot my ontmoeting met die Here en my laat besef dat alles waarna ek gemik het voor dit, niks beteken het nie,” vertel Joe.

Hy het in 2001 die ATKV Crescendo-kompetisie saam met Jaco du Plessis, wat vandag bekend staan as Jay, gewen. Sedertdien het sy musiek wye draaie geloop wat genre betref.

“Genre was nooit my rigtingaanwyser nie. Die Here het my gelei om eers poprock en toe swaar rock te maak, en daarna het ek orkestrale musiek gemaak. Intussen het ek ook drie seuns, tussen die ouderdomme van ses en twee, ryker geword.

“My perspektief oor die lewe en wat belangrik is, en waar ek inpas, het merkwaardig verander van 2001 tot nou,” sê Joe.

‘Ek sal nie bang wees nie’

Joe Niemand.

Een van Joe se grootste treffers, “Ek sal nie bang wees nie”, is ongetwyfeld een van Afrikaans se moderne lofprysingsliede wat 11 jaar ná sy uitreiking steeds hartsnare roer.

“Die rede waarom die liedjie die impak het wat dit het, is omdat dit Skrif is. Ek is nie die bron daarvan nie, ek het nie met ʼn liedjie opgekom wat mense se lewens verander nie.

“As kunstenaar staan ek terug en sien die liedjie as ʼn voertuig wat die Here gebruik het om die Skrif by mense in hulle karre uit te kry. Dit is iets wat baie groter is as ek. Natuurlik is ek as mens oorweldig deur ongelooflike terugvoer, maar ek weet ook dit is nie ek nie.”

Daarom was dit vir hom maklik om vir vyf jaar weg te loop van musiek af. “Sedert my stem die eerste keer in graad vier gebreek het, was daar seisoene in my lewe waar die Here my gebruik het om voor op die verhoog te staan en my dan weer weg te vat.”

Tog is musiek nie iets waarvan hy permanent kan wegbly nie. “Musiek is geskep om die Here te dien. Einde verlede jaar het ek na die Here gegaan en gevra vir antwoorde en Hy het my geantwoord op net die manier wat Hy kan. Ek weet nou dit is weer tyd om my mikrofoon in te druk en te sing.”

Dit is ook sy droom om vir die volgende seisoen van sy loopbaan steeds ʼn instrument van die Here te wees.

“Die Here is getrou. Hy het my nog nooit in die steek gelaat nie. As ek weet ek is besig met dit wat hy vir my gegee het om te doen, dan is daar nie ʼn ding op die aarde wat onmoontlik is nie.”

Joe is Sondag 5 Maart op die Proe’toria-fees se verhoog by die Botaniese Tuin in Pretoria te sien. Die verrigtinge skop af met ʼn lofprysing en gebed deur Nadia Vorster, waarna Joe op die verhoog sal wees.

Kaartjies vir Proe’toria is beskikbaar by Tixsa.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Joe Niemand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.