Luister: Joshua na die Reën oor die wêreld binne hom


Joshua na die Reën (Foto: Maroela Media)

Joshua na die Reën (Foto: Maroela Media)

Die bekroonde sanger Joshua na die Reën, oftewel Jacques de Villiers, het bykans twee jaar gelede opslae in die musiekbedryf gemaak met sy liedjies oor hoop. Dié album het hom ʼn statige plek in die bedryf verseker, en nou is die sanger terug met ʼn opvolgalbum waarin hy vertel oor die unieke wêreld binne elke mens.

Die album, Die wêreld binne my, is in Julie vanjaar vrygestel en beloof om nóg ʼn reeks treffers op te lewer.

Die sanger het aan Maroela Media vertel dat die inspirasie van die album elke persoon se uniekheid is.

“Net nadat ek my eerste album vrygestel het, het die tema ‘die wêreld binne my’ in my hart geval. Ek het besef elke mens het die wêreld binne hom- of haarself wat niemand regtig ten volle sal verstaan nie. Die waarheid is almal voel en dink nie soos ek nie. Ek het probeer om daardie wêreld te skets met die album,” het hy gesê.

“Die liedjies is alles soos stof en sterre en heuwels en berge. My vorige album was om soos ʼn kind te droom, maar hierdie album is om die moeilike goed te deel met ander.”

Dit is veral sy lirieke met dieper betekenis wat van hom ʼn huishoudelike naam gemaak het. Die sanger sê hoewel hy nie “dieper” probeer skryf nie, probeer hy iets van homself in sy musiek deel. “Daar is nie regtig kortpaaie in die lewe nie. Jy moet dit wat jy in die gesig moet staar, in die gesig gaan staar. Dit is half die boodskap wat ek met die album wil oordra.

“Ek hou ook daarvan om inklusief te skryf. Mense se stories en dinge wat met my gebeur, inspireer my. Ek het byvoorbeeld onder meer pa geword, daarom het ek ook ʼn liedjie vir my dogtertjie geskryf. Jy moet die dinge wat jy vir mense wil sê, nou sê, omdat dit soms te laat kan wees,” het hy bygevoeg.

Sy musiek is in wese ʼn openbare manier van leef, daarom is dit ook eg. “Baie mense vra my of dit nie vir my moeilik is om my hart so te deel nie. Ons moet mekaar liefhê en mekaar se stories ken. Dit wat ek skryf, is nie noodwendig ek nie, maar dis waarna ek streef om te wees.”

Die sanger het ook die temaliedjies gesing en geskryf vir flieks soos Hollywood in my huis en Vir Altyd, en die liedjie “Voshaarnooi” vir die fliek Ballade vir ʼn enkeling opgeneem.

Die wêreld binne my is beskikbaar in musiekwinkels landwyd en op iTunes.

Besoek ook die sanger se Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amanda ·

Hierdie ou is ons BESTE sanger ooit. Gaan kyk na sy optredes. Die beste wat ek al gesien het. Dankie dat jy Afrikaans sing. So eerlik en opregte ou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.