Luister: Joshua na die Reën wil harte boei, musikale brûe bou

Jacques de Villiers, beter bekend as Joshua na die Reën. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Met sy jongste album, Die Vallei, wil die bekroonde musikant Joshua na die Reën nie net sy luisteraars op ʼn emosionele reis van selfverkenning en vernuwing neem nie, maar hulle ook deel maak van die viering van sy merkwaardige dekade lange loopbaan.

Jacques de Villiers, beter bekend as Joshua na die Reën, se diepgaande lirieke en sielvolle klaviermelodieë roer hartsnare al sedert die uitreiking van sy eerste enkelsnit, “Lig op die horison”, in 2013.

Die Vallei, sy eerste album in byna vier jaar, spog met 18 diverse snitte en ʼn mengelmoes van invloede wat wissel van pop en alternatief tot R&B. Dit is deur die musikant Gideon Botes vervaardig.

“Ek hoop dat mense sal voel hulle kan asemhaal wanneer hulle na die album luister. Tydens die pandemie het mense baie mure om hulself gebou en kan nie meer onthou waaroor die lewe werklik gaan nie, en ek wil hulle herinner aan wat belangrik is,” vertel hy in die Maroela Media-ateljee.

Snitte soos “Rivier” en “Die Groot Gees van Hemel en Aarde” lê hom veral na aan die hart, omdat hulle by sy eie tuisateljee opgeneem is, met klanke van sy kinders en voëls wat in die agtergrond gehoor kan word.

Ook sekere liedjies se langer “meditatiewe melodieë” sonder lirieke én met opwindende samewerkings, met kunstenaars soos Karlien van Jaarsveld en Laerskool Thabazimbi se koor, sorg vir ʼn unieke musikale ervaring.

“Dit was vir my belangrik om ʼn brug te bou tussen die verskillende dele van die Afrikaanse musiekbedryf, in hierdie geval die meer kommersiële kant. Baie van hierdie kunstenaars, soos Karlien, het baie dieper dinge wat hulle deur musiek wil sê, maar hulle kry nie noodwendig altyd die geleentheid nie.”

In eg Joshua na die Reën-styl is die natuurskoon en geloof steeds in sy musiek verweef.

“Ek sal nooit kan wegskram van die natuur nie, dis waar ek die gelukkigste is en die naaste aan God voel. Deur moeilike en veranderende tye bly die natuurskoon konstant.”

Hy skerts dat sy besluit om ʼn vollengte-album in ʼn era van enkelsnitte uit te bring, nie ʼn goedkoop een was nie. “Ek gaan nogal teen die norm en is eintlik maar ʼn storieverteller, so ek hou daarvan dat dieselfde konsep deur ʼn album moet loop. Albums is deel van my storie en in die afgelope vier jaar het baie in my lewe gebeur wat vasgevang moes word.”

Verhale oor onder meer verlies, verhoudings en vertroue word in Die Vallei neergepen.

“Ek begin altyd by ʼn atmosfeer wanneer ek liedjies skryf. Ek voel iets en probeer om dit dan in woorde om te sit – wat nie altyd maklik is nie. Elke lied het sy eie verhaal en boodskap, maar tog moet daar ʼn goue draad wees wat almal saambind.”

“By my”, die eerste enkelsnit en musiekvideo-vrystelling vanaf Die Vallei, is Vrydag uitgereik en is geïnspireer deur ʼn e-posversoek wat hy van ʼn luisteraar ontvang het.

“ʼn Aanhanger het my gekontak en gevra om ʼn liedjie vir sy huweliksherdenking te skryf nadat iets gebeur het wat die vertroue in sy huwelik baie beskadig het. Die boodskap daarvan is om mense se kern te probeer sien en na hulle te kyk vir wie hulle is, nie net vir wat hulle doen nie.”

Twee hoogtepunte van dié lied is sy samewerking met die Engelse jazz-kunstenaar Hannah Foster, saam met wie hy musiek aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie studeer het, asook die musiekvideo wat in Potchefstroom geskiet is.

Jacques in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“My hele orkes is saam met my daarin te sien en ons het op kort kennisgewing ʼn advertensie geplaas en mense genooi om in ʼn musiekvideo te wees. Daar daag toe onverwags 60 mense op wat almal baie gewillig was, so dit skep ʼn lekker en energieke gevoel.”

Volgens die kunstenaar is dit belangrik vir hom om met die album se bekendstelling die boodskap oor te dra dat sy inspirasie vir alles wat hy in die lewe aanpak van God kom.

Sy hoop is dat Die Vallei vir luisteraars ʼn kans sal bied om te besin en te besef dat die lewe se onverwagse draaie en uitdagings tydelik is.

“Die lewe is soos ʼn staproete deur ʼn vallei. Ons word ouer, ons prioriteite verander en ons las word meer. Maar op ʼn staproete vergeet mens later van jou spanning en sorge en ek hoop dit is wat die album vir mense kan bied.”

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.
  • Kyk na die musiekvideo vir “By my” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Het gisteraand sy “live” optrede in Stellenbosch bygewoon. Wat ‘n talentvolle kunstenaar!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.