Luister: Joshua na die Reën wil sy hart uitstort

Joshua na die Reën kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Joshua na die Reën kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Jacques de Villiers, bekend as Joshua na die Reën, se splinternuwe album, Someraarde, is Vrydagaand by die Afrikaanse Hoër Seunskool bekendgestel.

Dit is sy derde vollengte-album wat bestaan uit 11 oorspronklike snitte uit dié begaafde musikant se pen.

Dié bekroonde kunstenaar bekoor reeds sedert 2014 Afrikaanse musiekliefhebbers met die vrystelling van sy debuutalbum, Joshua na die Reën.

Sedertdien het hy al verskeie musiektoekennings, onder meer verskeie Ghoema-, Huisgenoot Tempo-, Sama- en Woordfees-toekennings verower.

Hy het ook temaliedjies vir verskeie lokettreffers soos Vir Altyd en Ballade vir ʼn Enkeling asook televisieprogramme en -veldtogte geskep.

Hy het die titelsnit van sy jongste album vir sy ouer broer, Pierre de Villiers, geskryf. “Hy woon tans in Somerset-Wes en het reeds vandat ons klein seuntjies was die mense om hom uitgedaag om anders te dink oor die lewe. Tot vandag toe kan ek en hy mekaar lelik opvryf, maar ons kan ook sulke lekker gesprekke hê oor die lewe.

“Sy hart is nog altyd dat mense genoeg sal hê en dat die wêreld ʼn plek van hoop sal wees. Ek besef al hoe meer dat hoop nie ʼn plek is waarheen jy kan trek nie, maar ʼn plek is wat jy in jouself vind. En as ek vir hierdie plek ʼn naam kon gee, sou dit Someraarde gewees het.”

Hy vertel hy het sy jongste vrystelling self vervaardig. “Ek het baie moeite gedoen om die mooiste melodieë en lirieke soomloos te verweef met ʼn interessante kombinasie van kontemporêre en popklanke om ʼn baie treffende eindresultaat te verseker.”

Volgens die musikant het hy baie geleer tydens die opnameproses. “Op hierdie reis het ek mense ontmoet wat soveel meer ingeploeg het as wat van hulle verwag is. Ewald Janse van Rensburg het die vermenging van klank gedoen en dit was een van die samewerkings in my lewe wat werklik geen moeite was nie, want dit is lekker as jy mense só kan vertrou. Andy Maritz het die tromvervaardiging gedoen en ek sê dikwels vir hom dat hy dié album gered het,” sê hy.

Hy vertel dat hy, anders as met sy vorige album, Die wêreld binne my, luisteraars wil aanmoedig om die vrede binne hulself te vind.

“Ons lewe in ʼn tyd waar dit vir ons voel asof alles skeefloop en asof dinge al hoe slegter gaan, maar volgens statistieke leef ons eintlik tans in die veiligste tyd van die aarde se geskiedenis. Ons moet terugkeer na die besef dat jy nêrens in die wêreld hoopvol, veilig of vredevol gaan voel as jy dit nie in jouself gevind het nie.”

Die eerste enkelsnit van die album, “Soos in nou”, is te hoor op radiostasies en die album bevat ook snitte soos “Sterrenet”, “Branders” en “Vlieërs”, ʼn duet saam met die opkomende sangeres Liani Reynolds, wat saam met hom opgetree het by die bekendstelling van Someraarde.

Hoewel hy nie ʼn gunstelingsnit op die album kan kies nie, sonder hy wel “Branders” uit as een van die snitte wat uitstaan op dié album. Hy vertel die idee vir die snit het by hom posgevat tydens ʼn Desembervakansie op Kaap St. Francis.

Joshua na die Reën kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Joshua na die Reën kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Ek het op die strand gesit en na die branders gekyk en besef die branders weet meer van my as wat enigiemand weet, want ek sit elke Desember daar en stort my hele hart uit. Danél, my vrou, weet nou al as ek ná ʼn toer by hulle aansluit met vakansie, dan moet sy my net ʼn dag of twee gee om myself weer te vind.

“Ek wens eintlik my lewe was so dat ek daagliks na die mense of plekke om my kon gaan en dat hulle vir my soos die branders kon word, waar ek my hart elke dag kan uitstort en ek nie noodwendig ʼn hele jaar moet wag en myself en die mense om my afskeep om dit net elke Desember by die see te doen nie,” vertel hy.

Hy gaan ook eersdaags die musiekproduksie van die Musiek soos Grond-vertonings behartig en vertel dié projek, waarvan vele onafhanklike kunstenaars soos Kaleidoskoop, Liani Reynolds, Len Muller, Lizandra Winter en Leon Gropp deel is, lê hom baie na aan die hart.

“Die idee het so drie jaar gelede by my opgekom. Ek het deur my loopbaan al die voorreg gehad om redelik saam met die ouer legendes in die Afrikaanse musiekbedryf te werk, waaroor ek so dankbaar is.

“Ek onthou spesifiek ek het die dag saam met Coenie de Villiers en Amanda Strydom by Postcard Café in Jonkershoek in die Kaap gesit en ons was besig om aan ʼn optrede te werk vir die Woordfees. Wat my opgeval het in die gesprek tussen hierdie twee mense, was die respek wat hulle vir mekaar het. En ook hoe hulle mekaar se sterk- en swakpunte raaksien, maar steeds liefhet.

Die kunstenaars wat deel is van die Musiek soos Grond-projek reik binnekort 'n enkelsnit genaamd 'Lugballon' uit.

Die kunstenaars wat deel is van die Musiek soos Grond-projek reik binnekort ‘n enkelsnit genaamd ‘Lugballon’ uit.

“Ek besef toe ek dink nie in my generasie van sangers of musikante is daar daardie soort kameraadskap nie. Dit voel vir my dit is eintlik meestal ʼn kompetisie. En ek besef toe ek het so ʼn hunkering daarna om oor 40 jaar aan ʼn tafel te kan sit met medemusikante en sangers wat kan sê ons het almal ons beste gegee om iets te bring na die land en die wêreld toe.

“Vir my is die wonderlikste ding om saam met hierdie mense te wees en daar is geen ego nie. Die atmosfeer van die vertonings gaan ook ʼn samewerking wees tussen ons klomp. Daar gaan ʼn strykorkes saam met ons optree en dit gaan in die buitelug wees met ʼn piekniekatmosfeer.

“Die hele aand gaan sentreer rondom liriek en hart – ons hoofdoel is dat ons en die gehoor wegstap en voel hulle is nie soseer vermaak nie, maar eerder dat hulle iets beleef het,” vertel hy.

Die Musiek soos Grond-konserte vind op 27 April by Villa Avianto in Bloemfontein en 4 Mei by The Big Red Barn in Pretoria plaas. Kaartjies is beskikbaar by www.musieksoosgrond.co.za en koste wissel tussen R200 en R250 per persoon.

Someraarde is beskikbaar vir aankope op iTunes of op Joshua na die Reën se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Annuschka ·

Van die eerste keer wat ek jou hoor speel het op jeug aande in die kerk tot in met vandag is ek verlief op julle musiek. Tussen daai musiek en Heini se onbeskruiflikke gees wat als net omhels en die kalm na die storm bring maak elke dag die moeite werd. Hoop daar is vele meer albums

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.