Luister: Julanie J wil hoop bring – én in Afrikaans

Julanie J (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Julanie J belowe een ding: Sy bring gehaltemusiek met ʼn boodskap van hoop en liefde na die Afrikaanse musiekmark met haar splinternuwe enkelsnit “Dalk is ek”.

Dié sangeres en liedjieskrywer het tot dusver slegs Engelse en Christelike liedjies gesing, maar nou breek sy deur haar eie grense en sing “Dalk is ek” op haar eerste volledige Afrikaanse album.

Sy beskryf haarself as iemand wat met die pen en mikrofoon in die hand grootgeword het. “Ek is in die musiekbedryf gebore. Ek het net my hele lewe lank al mense geken wat musikante of liedjieskrywers is,” sê sy. Haar man is sélf ook ʼn klanktegnikus.

“Dalk is ek” kom uit Julanie se eie pen en gaan daaroor om jouself te ontdek en jou lewensreis te geniet eerder as om net op die eindbestemming te fokus.

“Baie mense bevind hulself in ʼn nege-tot-vyf-werk. Hulle sit voor ʼn tafel elke dag en hulle drome word nie uitgeleef nie, maar dit beteken nie die droom is nie daar nie. Die musiekvideo vir ‘Dalk is ek’ gaan dáároor: Gaan jy nog jou drome volg, en as jy gaan, hoe gaan jy dit doen en gaan jy dit geniet om dit te doen?”

Julanie verduidelik dat sy meestal selfondersoekende liedjies skryf. Sy sê sy sing omdat dit vir haar lekker is, maar sy skryf omdat sy stories wil vertel.

“Ons as mense raak so vinnig ingesluk en vasgevang in die verlede of raak so verstrengel met ons probleme dat ons soms skoon vergeet wie ons is. Ek dink ’n mens moet jou daagliks die vraag afvra: ‘Wie is ek en waarheen is ek op pad?’

Julanie J het onlangs haar splinternuwe enkelsnit “Dalk is ek” uitgereik. (Foto: Verskaf)

“Mense en hul stories raak my hart. Dit is vir my lekker en maklik om te skryf omdat ek dinge om my raaksien. Ek probeer altyd om so oplettend moontlik te wees; dis verstommend hoeveel klein goedjies jy mis as jy te vinnig lewe.”

“Dalk is ek” is Julanie se eerste liedjie in Afrikaans en sy geniet dit om in haar moedertaal te sing. “Dit is vir my so lekker om myself te kan uitdruk en in Afrikaans te kan sing,” sê sy.

Die sangeres meen as daar een ding is wat sy mense kan belowe oor die album waarop “Dalk is ek” later vanjaar verskyn, is dat dit góéie musiek gaan wees. Sy wil ook met dié album hoop en liefde verkondig.

“Dit sal lekker gehaltemusiek wees en ʼn boodskap van hoop verkondig. Hoop is so belangrik, want as jy hoop het, sien jy kans vir môre en vir die toekoms,” sê sy.

“Dalk is ek” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Essa ·

Julanie, ek het sommer jou vorige christelike album op Apple gaan luister en twee snitte afgelaai – Spirit Break Out en Heilig – jy is beslis ‘n begaafde, pragtige jong vrou en sal groot sukses behaal met jou nuwe album. Geniet die nuwe rigting en alles wat jy doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.