Luister: Kabaal Klankbaan tref met nuwe Afrikaanse folk-rock

Floris Groenewald van Kabaal Klankbaan. (Foto: Verskaf)

Floris Groenewald van Kabaal Klankbaan is sedert 2010 die enigste permanente lid van dié folk-rockgroep, wat in Afrikaans en Engels akoestiese rockmusiek maak.

“Ons eksperimenteer egter gereeld met nuwe klanke en raak ook aan rock- en elektriese musiek, maar ons maak meestal liriekgedrewe, folk-agtige liedjies,” vertel Groenewald in die Maroela Media-ateljee.

Kabaal Klankbaan se jongste enkelsnit getiteld “Soms” is geïnspireer deur saamwees met iemand, maar met die wete dat die persoon ʼn verlede en emosionele bagasie het, verduidelik hy.

“Die liedjie se verhaal word hoofsaaklik in ʼn derdepersoonstyl vertel en in ʼn stadium verander die perspektief van die liedjie. Dit is beslis nie ʼn Afrikaanse popliedjie nie en sal aanklank vind by mense wat hou van musiek van groepe soos Mumford & Sons of Klopjag.”

Die liedjie is in Groenewald se tuisateljee opgeneem met Jaco Mans wat die elektriese kitaar behartig het.

Die snit is vanuit Kabaal Klankbaan se splinternuwe kortspeler, Ek en jy (is lank reeds verby). “Hoe ek gewoonlik te werk gaan met ʼn versameling van liedjies in ʼn album is dat ek klaar skryf en dan later die liedjies wat saam goed gaan werk as ʼn eenheid identifiseer. Daar is bepaald konflik tussen die begin van ʼn verhouding en die beëindiging van ʼn verhouding op die album.

Ek en jy is lank reeds verby is ʼn liriek uit een van die liedjies en dit het vir my gevoel dit vat die positiewe en die konflik in die album saam.”

Die kortspeler bevat sewe liedjies met titels soos “Linker knie”, “Jannie Totsiens”, “Bitterliefde” en “Meisiekind”.

Die musiek is lankal reeds geskryf, maar Groenewald sê hy het doelbewus die liedjies ʼn ruk laat lê voordat hy dit met almal wou deel.

Floris Groenewald van Kabaal Klankbaan. (Foto: Verskaf)

“Met hierdie soort onderwerpe en materiaal moet jy dit eers filter en seker maak van wat jy sê en wat jy dink voordat jy dit in die openbaar deel,” verduidelik hy.

Kabaal Klankbaan het ook ʼn Engelse kortspeler getiteld Hunted Women saam met Ek en jy (is lank reeds verby) uitgereik.

“Daar is ʼn besliste skeiding tussen die albums wat taal betref, maar daar is ook ʼn stilistiese skeiding. Die een is meer intiem en akoesties en die ander een is meer elektries en opgeneem saam met ʼn orkes. Dit voel vir my dit sou nie gewerk het om dit te kombineer nie, want dit is twee aparte entiteite. Tog is daar ʼn oorvleueling van temas en albei sê iets van mekaar. In my kop is dit een ding, maar wat uitgereik is as twee dele.”

Die bekende musikant Peach van Pletzen, wat onder meer deel is van die groepe Bittereinder en Van Pletzen, het die albums afgerond.

“Esteties en stilisties verstaan hy my en wat ek uit die musiek wil kry,” sê Groenewald.

Ek en jy (is lank reeds verby) en Hunted Women is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.