Luister: Kevin Leo vier 21 jaar met eerste gospelalbum

Kevin-Leo-XXIKevin Leo is ʼn kunstenaar wat geen bekendstelling nodig het nie. Dié tenoor, wat veral gewildheid verwerf het saam met Danie Niehaus en Mathys Roets as Drie van die Bestes, vier vanjaar ʼn roemryke 21 jaar in die musiekbedryf. Sy jongste album – en ook eerste gospelalbum – XXI is onlangs vrygestel.

Sedert sy debuutalbum in 1995, ná hy by die ATKV se Crescendo-wedstryd presteer het, het Kevin ʼn dosyn gehalte-albums uitgereik. Daar word dikwels na hom verwys as die “Klein Pavarotti” en deesdae is hy ook bekend as die Singende Sjef.

Hy sê hy wou juis nie ʼn album met sy grootste treffers uitgee nie en het eerder besluit op ʼn gospelalbum. “Ek is nog altyd teen die status quo. Ek hou daarvan om anders te wees, maar ek wou ook vir die Gewer van my talente dankie sê. Dit wat ek het, is immers vir my gegee en die tyd wat ons op aarde het, is net geleen. Ek het besluit dit is die regte ding om te doen en ek doen dit met vrymoedigheid, dankbaarheid en opregtheid.”

Kevin voel onomwonde dat hulle dit vermag het om die beste produk moontlik vry te stel. “Ek het ʼn wonderlike span gehad en die beste regisseur in Matthys Maree. Hy is ʼn goeie vriend van my, maar ook ʼn briljante pianis en musikant. Die res van die spanlede is fantastiese mense,” sê hy.

Om liedjies vir die album te kies was nie maklik nie, en Kevin het besluit om die hulp van sy vriende via sosiale media in te win. “Ek het vir my vriende op Facebook gesê wat ek beplan en vir hulle gevra om my te laat weet watter liedjies hulle graag op die nuwe album sal wil hoor. Ek het omtrent 100 voorstelle gekry vir verskillende liedere, waaruit ons op die ou einde ʼn kortlys opgestel het. Die mense naaste aan my het my gehelp kies aan die 15 snitte wat op die album is.”

Die hele album bestaan uit bekende liedere. “Ek wou nie die gewone proses met die opname volg nie, so ons het kreatief geraak met byvoorbeeld Koos Doep se ‘Gebed’, wat al deur soveel kunstenaars opgeneem is deur die jare,” vertel Kevin. “Matthys het vir my ʼn middelgedeelte geskryf in die lied wat ons opgeneem het nadat ons die Du Plessis-familie se toestemming gekry het, en dit het die liedjie ʼn heel nuwe baadjie gegee.”

Kevin, wat tydens sy militêre diensplig as een van vier sangers in die David Gospel Ensemble deur die land getoer het, was reeds tydens sy teologiese studie aan die Universiteit van Pretoria vir dié genre bestem. Hy het sy stem, tegniek en vaardigheid sedert 2001 onder die bekwame opleiding van die stemafrigters Ina Snyman, Eugeni Copin en dr. Emma Renzi geslyp.

In 2006 het hy Europa aangedurf en suksesvolle optredes in onder meer Engeland en Australië uitgevoer. Hy het ook puik gevaar by die internasionale operawedstryd, Valsesia Musica, in Milaan, Italië.

Hy vertel in die lig van onder meer die Swart Maandag-gebeurtenis, het hy kreatief geraak met die Onse Vader en dit in ʼn krygslied omskep. “Ek het die gevoel gekry dat die vyand ʼn bespotting maak van Christene en reken omdat ons op ons knieë staan en bid vir krag en genade, is ons swakkelinge.”

“Die Onse Vader het nog nooit so geklink nie. Hy het ʼn marstempo en die hele lied is biddend. Hy begin meer gewyd en ontplof dan na ʼn magtigheid toe om oorlog te verklaar teen die vyand,” vertel hy.

“Ek het die beste musikante in die land gebruik en ek sê dit sonder huiwering. Mense soos Juan Oosthuizen, Mauritz Lots, Lizelle le Roux, Evert van Niekerk, Jacques Fourie, Carlé van Deventer, Donny Bouwer, Brendan Ross en die Akustika-koor, onder leiding van Christo Burger. Die album bevat ook baie viole en ander strykinstrumente en alles is regstreeks opgeneem. Matthys het ook sommer ʼn bietjie trekklavier gespeel. Die hele proses was net ʼn lekkerte.”

Die album is by alle groot musiekhandelaars te koop en sal ook eersdaags op digitale platforms beskikbaar wees.

Volg Kevin en sy vertonings op sy Facebook-blad. Vir enige navrae of besprekings stuur ʼn e-pos na [email protected].

Kyk hier na die video vir “Onse Vader”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.