Luister: Krone 3: Brendan Peyper vertel van ‘moewiese jol’


Brendan Peyper (Foto: Maroela Media)

Brendan Peyper (Foto: Maroela Media)

Afrikaanse kunstenaars soos Juanita du Plessis, Ray Dylan, Kurt Darren, Brendan Peyper en Refentse is slaggereed om vanjaar die verhoog te betree vir die Krone 3-musiekkonsert wat op 13 en 14 Augustus by Carnival City plaasvind.

Peyper het in die Maroela Media-ateljee kom kuier om te gesels oor dié konsert.

“Verlede jaar was my eerste Krone-konsert. Ek is baie bly dat hulle my potensiaal raakgesien het en vanjaar weer genooi het. Vanjaar se Krone gaan nog lekkerder en groter as verlede jaar sʼn wees, en ek is baie opgewonde om die verhoog te betree,” vertel hy.

Hy meen vanjaar se konsert sal verseker dat aanhangers ʼn volle dosis Afrikaanse musiek kry. “Ek dink wel mense kan vanjaar die meeste uitsien na al die nuwelinge. Sangers soos Refentse, Jacques Terreblanche en ek is van die nuwelinge. Ons beplan ʼn groot makietie. En natuurlik gaan die gevestigde kunstenaars ook baie goed wees.”

Heelwat saamsingliedjies word vir dié konsert beplan en sangers sing ook vanjaar meer duette. “Die doel van die hele konsert is om duette te doen sodat die sangers saam op die verhoog kan wees. Ons doen ʼn reeks daarvan en dis maar een van die hoogtepunte.”

Peyper sê sy eie album, Stop, wag, bly nog ʼn bietjie, het ook onlangs goue status bereik. “Ek mik nou vir platinum. Ons het onlangs ook ʼn eksklusiewe weergawe van die album uitgebring met ses nuwe snitte daarop, wat meer van ʼn akoestiese klank het.”

Hy is tans besig met sy jongste album en sê dat aanhangers nie meer te lank hoef te wag nie.

Kunstenaars soos Nicholis Louw, Snotkop, Adam Tas, Andriëtte, Elizma Theron, Ricus Nel, Liezel Pieters, Manie Jackson, Jacques Tereblanche en 4 Werke gaan ʼn hele rits keurspelle van plaaslike en internasionale gunstelinge uitvoer.

Kaartjies vir die konsert is nou beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.