Luister: Kry nou end met negatiwiteit, sê Elizma Theron

Elizma Theron (Foto: Facebook)

Daar is gans te veel negatiwiteit in die lewe, sê die sangeres Elizma Theron. Daarom het sy doelbewus besluit om haar jongste album ʼn positiewe aanslag te gee – en dié album is boonop vol persoonlike staaltjies uit haar eie lewe.

Die sangeres sê dié album, Hierdie hart brand liefde, is ʼn direkte beskrywing van die plek waar sy haarself tans in haar persoonlike lewe bevind: ʼn positiewe ruimte waar sy floreer en gelukkiger is as ooit vantevore. En dís alles te danke aan die liefde; die liefde van haar man, Nico, en haar kinders, Eli-zé (4) en NJ (2), én die ondersteuning van aanhangers.

Positiwiteit is ʼn daaglikse en doelbewuste keuse, sê sy. Dít het sy weer besef nadat die gesin in November verlede jaar onder misdaad deurgeloop het. Sy het destyds aan Maroela Media vertel sy was erg ontsteld toe twee mans in die vroeë oggendure by hul huis in ʼn veiligheidskompleks in Pretoria-Oos ingebreek het. Dit was ʼn nare beproewing waartydens Elizma vir haar, Nico en haar kinders se lewe gevrees het. Nico het skote in die huis afgevuur waarna die verdagtes met kontant en elektroniese ware gevlug het.

Maar dís nou in die verlede, en nou kyk dié gesin vorentoe, sê sy.

Elizma se jongste album wat vroeër vanjaar uitgereik is, volg op haar suksesvolle vorige album, Boeregirl met ʼn country hart.

“Die tyd was reg vir ʼn oorspronklike album,” vertel sy. “Toe ons met die proses begin en om ʼn tafel sit om te besluit watter rigting ons met die album wil inslaan, het ons vir mekaar gesê daar is genoeg negatiwiteit in die lewe. Ek wou ʼn energieke en positiewe album vervaardig. Dis ook die plek waar ek in hierdie stadium van my lewe is. Daar is ʼn storie wat deur die hele album loop: Dit gaan oor liefde vir jouself, liefde vir die lewe en liefde vir dinge om jou. Dis ʼn lekker dansalbum, maar ook een met mooi stories.”

Sy sê sy het doelbewus besluit om nié enige liedjies met negatiewe konnotasies in die album in te sluit nie. “Van my vorige albums het ʼn negatiewe aanslag gehad, maar ek dink dis maar die country in my. Hulle sê mos altyd: ‘Wat kry jy wanneer jy country van agter na voor speel? Jy kry jou huis terug, jy kry jou motor terug en dan ook jou eerste en jou tweede vrou.’ Dalk is dit waar ek geleer het om hartseer oor dinge te wees.

Elizma Theron en haar man, Nico, en hul kinders, NJ en Eli-zé (Foto: Facebook)

“As ek nou terugkyk, besef ek dit was ʼn ander tyd in my lewe. Ek het deur seer gegaan wat ek wou uitskryf omdat skryf vir my terapie is. Dis hoekom hierdie album vir my so wonderlik is – as ek weer oor seer of hartseer moes sing of skryf, sou dit vir my moeilik wees omdat dit nie is waar ek myself nou in die lewe bevind nie.”

Elizma, wat betrokke was by 11 van die 12 snitte, sê die snitte bevat baie persoonlike vertellings. Sy sê dié vertellings is die rede hoekom dit senutergend is om ʼn album uit te reik.

“Ek sit as’t ware ʼn dagboek van myself êrens in die openbaar en vra mense om dit te beoordeel,” vertel sy. “Daar is baie persoonlike vertellings in die album. Ek sukkel om te skryf as ek goed uit die lug uit moet pluk. Ek moet altyd iets van myself in my musiek insluit. Dis nie noodwendig duidelik in elke snit nie, maar die mense na aan my, of die mense wat deur ʼn soortgelyke tydperk in hul lewe gaan, sal die verhaal binne die musiek hoor.”

Sy sê ʼn verantwoordelikheid rus op elke kunstenaar om musiek te maak wat iets vir iemand kan beteken. “Ek dink kunstenaars het ʼn verantwoordelikheid om mense minder alleen te laat voel met die musiek wat ons skryf en om hulle met jou musiek te laat weet dat jy nie alleen deur iets spesifiek gaan nie. Die musiek moet hoop bring – en ek hoop my musiek kry dit reg.”

Elizma se ‘Hierdie hart brand liefde’-album (Foto: Facebook)

Twee enkelsnitte in die album, “Marilyn Monroe” en “Ek kies dit weer”, pryk reeds op radiostasies se trefferparades.

Oor “Marilyn Monroe” sê sy: “Ons kan nie verwag dat die wêreld anders na ons kyk as wat ons na onsself kyk nie. Die liedjie ‘Marilyn Monroe’ gaan nie oor mooi meisies met grimering en hoë hakke nie. Dit gaan oor die skoonheid binne-in elkeen – ongeag hoe jy lyk, wat jou gewig is of wat jy doen. As jy aan die einde van die dag jou eie selfwaarde besef, gaan mense ook anders na jou kyk. As jy jouself meet aan gedokterde foto’s in tydskrifte, breek jy jouself stadig maar seker af. Wees net jouself; dís wat saak maak.”

“Ek kies dit weer” is spesiaal geskryf vir Eli-zé en NJ. Oor dié snit sê sy: “Ek kon een aand nie slaap nie en het half ʼn nostalgiese oomblik beleef toe ek na my kinders se babafoto’s gekyk het. Die idee vir ‘Ek kies dit weer’ het ontstaan en ek het onmiddellik van die lirieke begin neerskryf. Dis vir my baie spesiaal want dit sal altyd daar wees; vir my kinders om later in hul lewens na te luister, maar ook vir elke ma. Om ma te wees is harde werk, maar ek kies dit elke dag weer.”

Vir meer inligting oor toerdatums besoek Elizma se amptelike Facebook-blad. Laai ook haar album op iTunes af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

‘n Vrou wat nie kla nie en ander positief inspireer is ‘n besonderse vrou. Dankie Elizma. Alle vroue kan ‘n bladsy uit jou boek vat.

cornell van rensburg ·

Hi Elizma dit is die 1 sent oom . Steur jou nie aan die negatiewe kommentaar nie . die vraag is altyd was enige een van hulle al deur so n tyd in hulle lewe ??? indien nie hoe kan hulle die kommentaar lewer wat hulle lewer ??? Tonne Jesus liefde en seen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.