Luister: Kunstenaars snoer kragte saam om SA te help bou

Bands for Bricks is ʼn geldinsamelingsinisiatief wat reeds jare lank die droom is van Johrné van Huyssteen, bekende radio-omroeper en musikant, en vanjaar word dié droom verwesenlik in die vorm van ʼn massiewe konsertproduksie wat in Julie in Pretoria plaasvind.

Die opbrengs van dié konsert, waar gesogte kunstenaars uit verskeie musiekgenres soos Piet Botha, Valiant Swart, Jan Blohm, Klopjag, Die Melktertkommissie, Hemelbesem, Joe Foster en Appel te sien gaan wees, sal geskenk word aan projekte wat landwyd na die welsyn van behoeftige kinders omsien.

Die Bands for Bricks-inisiatief ondersteun die SA Cares for Life-organisasie. Dié organisasie is leiers in die oprigting van familieprojekte en die versorging van kinders in nood.

“Om die waarheid te sê het dit ʼn halfuur geneem om al die kunstenaars te kry om opgewonde te wees oor die konsert en om te sê as die datum reg is, is hulle in,” vertel Van Huyssteen in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

Die konsert vind op 14 Julie by die Sun Arena by Times Square Casino in Menlyn, Pretoria, plaas. “Ons wou legendes soos Anton Goosen, Koos Kombuis, Piet Botha, Gian Groen en Valiant Swart deel maak van die konsert. Ons het dan ook ʼn hele paar groepe uit die Ddisselblom-era, soos Klopjag en Die Melktertkommissie, en dan het ons ook kunstenaars soos Appel, Joe Foster en Roan Ash, wat ʼn groot naam is en besig is om selfs in die buiteland naam te maak,” sê Van Huyssteen.

Johrné van Huyssteen is voorsanger vir die groep, Ddisselblom. (Foto: Facebook via Johrné van Huyssteen)

Johrné van Huyssteen is voorsanger vir die groep, Ddisselblom. (Foto: Facebook via Johrné van Huyssteen)

“Ons het begin kyk na kombinasies, soos Piet Botha wat al baie saam met Tidal Waves opgetree het en Hemelbesem wat al saam met Gian Groen saamgewerk het. Klopjag het ook al van Gian se goed verwerk en toe raak hierdie konsert net al hoe mooier, want dit is nie net ʼn konsert waar een ou op die verhoog kom, drie liedjies sing en dan weer afgaan nie. Dit is ʼn produksie waar heerlike treffers soos “Blommetjie gedenk aan my” en “Lisa se klavier” gehoor kan word waar dit deur verskeie kunstenaars uitgevoer gaan word.”

Die konsert vind die Sondagmiddag van 12:00 tot 15:00 plaas. Kaartjies kos tussen R300 en R350 en is beskikbaar by iTickets. Die volgende kunstenaars en groepe sal almal daar te sien wees: Anton Goosen, Piet Botha, Koos Kombuis, Valiant Swart, Jan Blohm, Gian Groen, Klopjag, Ddisselblom, Die Melktertkommissie, Roan Ash, Tidal Waves, Jonathan Martin, Hemelbesem, Appel, Joe Foster en Bottomless Coffee Band.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Nou waar is die “regse” lot sangers soos Steve en Jay bv. Seker geboikot. Kom ons kyk hoe boikot die publiek hierdie lot.

Asjas ·

As Steve daar sal wees, is ek ook in, andersins is daar geen trekpleister vir my.
Gaan wit behoeftige kinders ook voordeel trek hieruit?? Ek twyfel …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.