Kurt se nuwe liedjie sal jou laat skoffel

Kurt Darren

Foto: Facbook/Kurt Darren

Kurt Darren is reeds jare lank die onbetwisbare kaptein van Afrikaanse dansmusiek en sy blinknuwe enkelsnit, “Kaalvoet sokkie”, sal seker maak dat dansvloere oor die hele Suid-Afrika góéd blink gevryf word!

Met 21 jaar van eersteklas, voetstamp-vermaak reeds agter die blad, spog Kurt met die meeste ranglys-treffers van enige plaaslike kunstenaar, sewe Sama-toekennings en ’n allemintige 20 goue, platinum- en multi-platinumvrystellings. So, een ding kan jy beslis weet: dié man wéét hoe om gehore op hulle voete te kry en te hou!

“Kaalvoet sokkie” bly getrou aan ’n resep wat soos ’n bom werk: ’n polsende, toonkrul-lekker ritme, bobaas instrumentale vertolkings met ’n techno-ondertoon, ’n aansteeklike melodielyn, ’n seepgladde harmonie en liriek wat gemaak is om luidkeels saam te sing (vir diegene wat genoeg asem oorhet ná ’n superlekker skoffel!).

Dis ook die perfekte lusmaker vir nóg iets om na uit te sien: Kurt se splinternuwe album wat binnekort op die rakke te siene sal wees. Te oordeel na die aptytwekker sal die hoofgereg ’n absolute fees wees – een wat verantwoordelik gehou sal word vir nog baie seer voete en baie moeë lywe … natuurlik daai “LEKKER moeg” en “LEKKER seer”, vir al die regte redes!

“Kaalvoet sokkie” is vanaf 6 Mei op iTunes beskikbaar. Soos die liriek tereg sê: “Dit maak nie saak waar die partytjie is nie. Skop uit jou skoene – jy wil nié uitmis nie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

derick ·

hi daar ek van afrikaans music. mooi menses en baie mooi kunstenaars.

Boeta van Rhyn ·

Ek wil net hoor of enige iemand vir my enige indiekasie kan gee vir wanneer min of meer Kurt se nuwe cd op die rakke is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.