Luister: Kurt vertel oor sy 24ste jaar as SA se ‘kaptein’

Kurt Darren (Foto: Janie Monsieur)

Noem maar net die liedjietitels “Kaptein”, “Kaalvoet sokkie”, Loslappie” of “Sê net ja”, en almal weet dadelik wie die stem agter dié treffers is. Kurt Darren laat mense al 24 jaar lank saam sing, dans en langarm, en hy is nie van plan om binnekort op te hou nie.

Kurt stel vandag die eerste musiekvideo van sy 28ste album genaamd #Partytjiedier eerste op Maroela Media bekend.

“Die album se naam is #Partytjiedier, want ek is die ou wat al jare lank die lekker dansmusiek in Suid-Afrika maak. Ek is nie meer nie, maar ek was op ʼn tyd ʼn partytjiedier. Ek dink ons almal het ʼn partytjiedier wat in ons skuil, ons kort net iets of iemand om ons aan te moedig. Ek was gelukkig die tipe partytjiedier wat nie uitgehaak het nie,” skerts Kurt.

Die eerste enkelsnit op dié album, genaamd “Klein Saterdag”, is die soort musiek wat aanhangers van Kurt verwag. Dit is perfek vir langarm by ʼn dans of om die partytjie aan die gang te kry by ʼn braai, te danke aan die liedjie se moderne kinkel op sokkiemusiek.

“Klein Saterdag is natuurlik ʼn Woensdag; so, as jy by die werk sit en jy kry daai jeuk dat jy vanaand wil uitgaan, is dié liedjie vir jou. Dán weet jy dis klein Saterdag.”

Afgesien van lekker langarmmusiek is daar ook baie ander soorte musiek op die album. Kurt sê al sy albums is soos om ʼn verrassingspakkie oop te maak: Mense kan hul hand daar indruk en iets uithaal waarvan hulle sal hou.

Kurt en sy gesin (Foto: Instagram)

“Een van die liedjies op die album beskryf waar ek op die oomblik in my lewe is. Sy naam is ‘Die gelukkigste man op die aarde’, maar dit is glad nie ʼn sokkieliedjie nie. Dan is daar ook liedjies soos ‘Heel aand lank’, ‘Naweek smaak’ en ‘Tydbom’ waarvan ek dink julle baie sal hou.”

En hoekom is Kurt so gelukkig op 49-jarige ouderdom?

Want, verklap hy, hy het twee pragtige kinders, Kade en Kyrah, en ʼn vrou, Dunay, wat hom ten volle ondersteun.

“My gesin is my grootste aanhangers. Die belangrikste ding vir my is om tyd saam met my kinders en my vrou deur te bring, want tyd saam met hulle kan jy nie vervang nie. Ek was nog altyd ʼn verantwoordelike man, maar pa-wees het my geleer om altyd dubbel seker te maak oor elke besluit wat ek neem, of dit nou met werk te doen het, of ʼn gholfdag-uitnodiging is,” sê hy.

“Ek is die gelukkigste man op aarde omdat my vrou my so ondersteun. Sy het ʼn meestersgraad in sielkunde en kan enige werk doen wat sy wil, maar sy besluit om saam met my te werk en ons kinders groot te maak.”

Kurt besit ʼn geleentheidsmaatskappy wat geleenthede soos die Super Sokkie-bootrit en Dis ʼn Sirkus-konsert reël.

Kurt Darren en sy vrou, Dunay, is al vir agt jaar lank getroue (Foto: Instagram)

Kurt, wat verlede jaar binne drie maande 24 kg afgeskud het, sê sy nuwe gesonde leefstyl dra daartoe by dat hy al 24 jaar lank rond kan spring en dans op die verhoog.

“Om vir ʼn uur en ʼn half op te tree met dié soort musiek is soos om aërobiese oefening te doen. Jy moet gesond bly en mooi na jouself kyk, want jou energievlakke moet altyd hoog wees. ʼn Gesonde liggaam, gesonde denke en ʼn gesonde brein – dit is belangrik,” sê hy.

Afgesien van ʼn gesonde leefstyl sê Kurt hy probeer sy oor op die grond hou om seker te maak hy bring die soort musiek uit waarvan mense hou en wat hulle van hom verwag.

“Daar is niks lekkerders as wanneer ʼn paar duisend mense jou liedjies terugsing by ʼn vertoning nie. En ja, ek skryf dieper musiek ook, maar dis belangrik om vir die mense te gee wat hulle wil hê.” Dáárom die verskeidenheid op sy albums, sê hy.

Kurt sê ook hy moes veral in die afgelope 24 jaar leer hoe om asem te skep omdat dit net so belangrik is. Hy sélf is nie ʼn man wat hou van baie stilsit nie, en selfs vakansietye is hy reeds vroeg uit die vere. “Maar ʼn mens moet leer hoe om asem te skep, sodat jy nie een van daai balle wat jy in die lug probeer hou, laat val nie,” sê hy.

“Klein Saterdag” is reeds op alle digitale platforms beskikbaar. #Partytjiedier word op 11 Oktober vrygestel en sal digitaal asook in CD-winkels te koop wees.

Kyk nou die musiekvideo vir “Klein Saterdag” eerste hier of stroom dit direk van jou gunsteling aanlyn musiekdiens:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KRAAI ·

Mooi Kurt, jy is een van ons trotse sangers. Hou ons taal hoog. Ek gaan beslis jou CD koop.
Kan net sterkte toewens aan al ons Afrikaanse sangers. Julle ROCK

Alles loop reg ·

Ooit uigevind hoekom die lugsakke nie ontplooi het destyds?

Lugsak ·

Dit is belangrik om te verstaan hoe lugsakke werk. Die ilusie wat Hollywood skep dat dit ‘n fluffy sagte kussing is wat uitskiet is verkeerd. Dit is ‘n sak wat met geweldige spoed op blaas en dan dadelik weer begin af blaas – en dit alles onder 1 sekonde. Dan moet daar in sekere gevalle ook ‘n skere hoeveelheid deacceleration wees. Sekere sensors moet getref word. Daar is soveel veranderlikes wat ‘n rol speel. Indien die impak nie groot genoeg was of vinnig genoeg. Dit alles speel ‘n rol. En gewoonlik as die lugsakke nie af gegaan het nie en jy is lewendig was dit nie nodig gewees nie. En onthou die hele sisteem is ontwerp rondom jou sitplek gordel. So as jy nie jou sitplek gordel dra nie gaan die lugsakke jou nie beskerm nie.

Sonja Alberts ·

Dit moet gedoen wees well done Kurt!!!!Niks lekkerder as Afrikaanse musiek nie!!!Maak mens super trots op jou taal!!!

Chid ·

Ja Ronel, ek sien so. So my gunsteling media( maroela) doen nou soos die res. Hulle besluit wat ons mag noem of nie. persoonlik hou ek van Kurt se liedjies, maar op die boonste foto lyk hy soos my man na ‘n saterdag op Loftus.

Nee dankie ·

Nee dankie daar is baie beter om na teluister !!
Jy het stokoud geword, wats fout !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.