Luister: Laurika vier 40 jaar in musiekbedryf met spesiale versamelstel

Die 'Laurika Rauch - 40 jaar'-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Die ‘Laurika Rauch – 40 jaar’-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Dit is nou 40 jaar sedert die uiters gewilde sangeres en Afrikaanse ikoon, Laurika Rauch, vir die eerste keer bekend geword het met haar treffer, “Kinders van die wind”, wat deur Koos du Plessis geskryf is.

Sy is sedertdien een van die min Afrikaanse kunstenaars wat kan spog met ʼn ellelange lys wegholtreffers en ses toekennings vir haar lewenslange bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf. ʼn Sewende toekenning sal aan haar en haar man, Chris Torr, op vanjaar se Innibos Nasionale Kunstefees toegeken word.

Torr is die skrywer en komponis van haar grootste treffers soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Stille Waters”, “Die gang”, “Kyk hoe glinster die maan”, “Op Blouberg se strand”, “Die mense op die bus”,  en nog vele meer.

Laurika Rauch – 40 jaar is ʼn versamelstel wat deur dié geliefde sangeres vir haar aanhangers en musiekliefhebbers saamgestel is om haar vier veelbewoë en heerlike dekades in die bedryf te vier.

Die 'Laurika Rauch - 40 jaar'-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Die ‘Laurika Rauch – 40 jaar’-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Vir die versamelstel het sy 14 albums uit haar omvattende katalogus gekies wat sy glo haar loopbaan die beste verteenwoordig. Sy het egter gevoel daar is ʼn hele paar liedjies wat nie op dié albums ingesluit is nie, maar ook vra om gehoor te word en het dus ʼn 15de album, ʼn Versameling, spesiaal by die versamelstel ingesluit.

Met hierdie 15 albums sal aanhangers bykans elke liedjie wat Rauch oor haar 40 jaar in die bedryf opgeneem het as ʼn versamelstuk kan bewaar.

“Elke boksie bevat ook ʼn boekie van 12 bladsye met foto’s van my asook drie resensies oor my werk van 1979, 1984 en 2017,” vertel Rauch trots. “Ek dink ek skyn die meeste op die verhoog, maar dit is vir my verskriklik belangrik dat daar iets nagelaat moet word en daarom is dit vir my so wonderlik dat ʼn mens albums kan maak.

“Ek het dit goedgedink om resensies te plaas van my werk op die verhoog en daar is ook ʼn collage-bladsy met ʼn klomp foto’s en bedankings. Ek het elke boekie ook persoonlik geteken,” vertel Rauch.

Die 'Laurika Rauch - 40 jaar'-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Die ‘Laurika Rauch – 40 jaar’-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Die sangeres het baie moeite met die verpakking en samestelling van die versamelstuk gedoen. “As ʼn mens so iets aanpak, moet dit onberispelik wees. Dit is die manier waarop jy jou waardering wys en hoe jy respek toon teenoor jou gehoor en die mense wat betrokke was om jou dit te help maak,” sê sy.

Sy voeg by dat sy nie een album in die versamelstuk as ʼn gunsteling kan kies nie. “Ek is ʼn huis met baie kamers en ʼn moeder met baie kinders, maar as ek gedruk word, sou ek waarskynlik die eerste album, Debuut, uitsonder. ‘Stuur groete aan Mannetjies Roux’ staan ook vir my baie uit.”

Rauch sê sy hoop dat stamboekondersteuners en mense wat ʼn lang pad saam met haar loop, dié versamelstel as erfstuk sal aankoop. “Ek hoop dat die stel van waarde sal wees vir enigiemand wat lief is vir die musiek en ʼn verbintenis daarmee het. My bedoeling was dat die versamelstel iets baie uniek en spesiaal moet wees.”

Die 'Laurika Rauch - 40 jaar'-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Die ‘Laurika Rauch – 40 jaar’-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Die stel is eksklusief beskikbaar op Maroela Media se aanlyn winkel, Die Koöperasie. Daar is slegs 1 000 stelle beskikbaar en sal nie later herdruk word nie. Die koste beloop R1 265 per stel. Die bedrag sluit nie posgeld in nie. Die verkope van die versamelstel ondersteun ook die Solidariteit Helpende Hand se #StopHonger-veldtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adila Heunis ·

Ek s n nuwe bewonderaar van Maroela Medea omdat julle trots Afrikaans is.
Wat moet ek doen om Laurika se vesamel CD’s te bestel?

Doempie ·

Laurika is my absolute gunsteling, haar stem soos rooiwyn, kaggelvuur, kerslig en mistige reënerige seeweer

Elsa ·

Een Kunstenaar wat n Pragtige stem het en hoopeloos te min blootstelling kry. Wêreld klas.

Ek sal dit maar op my wenslysie moet sit

Bettie ·

Blyk of net Suid Afrikaners kan bestel. Ek van Namibië hoe gemaak om ook een van die versamel stelle aan te skaf?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.