Luister: Leah stof dansskoene af vir ‘Move aan’

Leah. (Foto: Willem Botha)

Die borrelende sangeres Leah het vir haar jongste enkelsnit, “Move aan”, wat pas uitgereik is, weer haar partytjieskoene afgestof.

Volgens Leah, wat tans ook besig is met opnames vir Duidelik dapper se tweede seisoen, is dié popliedjie perfek vir enige somervakansie en partytjiespeellys.

“Of jy nou om die vuur kuier, ʼn vleisie braai of net lekker wil langarm – ‘Move aan’ sal jou partytjie behoorlik skop gee,” sê sy laggend.

Dit is Leah se eerste uitreiking onder die Universal Musiek-vaandel. “Move aan” is deur Roux Cloete en Dirk van Niekerk geskryf en Van Niekerk was ook die vervaardiger.

“Ek is baie trots om by Universal te kon aansluit en ek glo hierdie eerste liedjie saam met hulle gaan lekker wees.”

Met meer as 200 000 volgelinge op TikTok is Leah se “Move aan”-uitdaging vir haar ʼn ander manier om met aanhangers te kommunikeer en hulle by haar musiek te betrek. “TikTok bied soveel vermaak en ek het vandat ek op die platform is soveel geleer.”

Vir Leah is dit belangriker om pret te hê. “Die lewe is klaar so suur en negatief, so kom ons lag eerder ʼn bietjie.

“Dit is wat Tiktok vir my so lekker maak. Jy kan vir jouself lag, party mense wíl hê jy moet vir hulle lag en so lag ons almal saam.”

So tussendeur haar musiek is Leah ook voor die kamera besig met aanbiedingswerk vir televisie. Dié voormalige Boer soek ʼn vrou-aanbieder is deesdae te sien in kykNET se Duidelik dapper-program.

“Die eerste seisoen het baie goed gevaar en ons het wonderlike terugvoer gekry. Dit is ʼn relevante program met baie goeie inligting wat mense se lewe kan verander.”

Leah is opgewonde oor die tweede seisoen wat tans opgeneem word en vertel dat daar ʼn paar veranderinge is waarna kykers kan uitsien.

“Die dapperstorie en mediese insetsels is steeds deel van die program, maar dan is daar nou ʼn nuwe segment waarmee ons wil terugploeg in mense en organisasies en die lekkerste deel hiervan is dat kykers mense kan nomineer.”

Leah verklap dat sy ook aan ʼn Kersliedjie gewerk het wat binnekort uitgereik word. Sy vertel dat haar weergawe van “Santa Claus is coming to town” ʼn paar interessante note bevat, maar dat die tradisionele klank steeds daar is.

“Ons almal hou mos maar van ʼn Kersliedjie,” sê Leah. “Sodra daar Kersfeesmusiek in die winkels speel en die Kersfeesdekor opgesit word, kan jy nie anders as om ook in die gees van Kersfees te deel nie.”

Wanneer Leah nie op die verhoog of besig is met televisieopnames nie, sorg sy dat daar altyd iets is om haarself mee besig te hou. Sy het onlangs haar eerste motiveringskursus saam met Libertas Besigheidsinstituut ontwikkel en sy meen dit is gepas vir moeilike tye waar ʼn mens sukkel om positief te bly of wanneer jy soms jou motivering verloor.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

“Move aan” is beskikbaar op alle digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Sy was puik aanbieder ook van “Boer soek ‘n vrou” Werklik ‘ n pragdametjie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.