Die sanger en aktrise, Leah, sê die titel van haar album is nie verniet Wonderwerk nie, want dié album het haar nog net van krag tot krag in die musiekbedryf geneem. Sy het onlangs die Ghoema-toekenning vir Nuweling van die Jaar gekry en maak vinnig opgang in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf met nog nuwe vrystellings.
Leah het vertel sy is dankbaar vir die Ghoema en glo dié toekenning was die eerste van vele. “Dit beteken vir my baie meer as net erkenning. Ek het ook in my dankie-toespraak gesê dit voel nou asof daar plek is vir my in die mark en dat mense van my musiek hou,” het sy gesê.
Sy probeer met haar musiek ʼn baie wye gehoor teiken. “My musiek het iets van alles in. Ek is lief vir die lewe en wil dit ook wys in my musiek. Met die liedjie “Met jou klere aan” wou ek iets doen met ʼn lekker deuntjie, maar ek wil ook diversiteit in my musiek hê. Ek dink diversiteit kan in die album gesien word.”
Leah het onlangs haar volgende enkelsnit, “Volmaan”, vrygestel en sê dis een van haar gunstelingliedjies. “Ek is baie trots op dié liedjie en die musiekvideo. Hulle sê die wolf huil oor verlore liefde onder die volmaan en ek het die liedjie aangepas sodat ek liefde vind onder die volmaan.”
Die skrywers Johan C Vorster en Christoff Kotzé het die liedjies op Wonderwerk geskryf. Sy beplan om nog ʼn paar enkelsnitte vry te stel voordat sy aan nuwe musiek begin werk.
Leah is ook in die Sterlopers-reeks te sien. “Die toneelgogga het beslis gebyt en ek hoop daar kom nog reekse. Ek het beslis ʼn passie vir beide, maar vir nou fokus ek eers op my musiek,” het sy vertel.
Wonderwerk is landwyd in musiekwinkels beskikbaar. Besoek ook Leah se Facebook-blad.
Leah se musiekvideo, “Volmaan”.