Luister: Lee Scott ‘vry’ ná angs hom terughou

Lee Scott (Foto: Janie Monsieur)

Lee Scott sing in sy jongste enkelsnit, “Vry”, oor sy eie worsteling met angs en ʼn gejaagde lewe.

Hy het aan Maroela Media vertel dat dié liedjie ʼn brief aan homself is.

“Ek wou aanvanklik ʼn liedjie skryf wat persoonlik, op myself, gerig is. Die liedjie sélf klink nie so diep nie, maar daar is meer agter die liedjie as wat dit klink. Dis is nie ʼn stadige tranetrekker nie, dit is ʼn goedvoel-liedjie,” vertel hy.

Scott sê “Vry” gaan oor sy angstigheid wat hom terughou in die lewe en dat mense hulself daarmee kan vereenselwig, omdat almal iets het wat hul terughou.

“Of dit nou depressie, angs, jou verhouding of jou werk is, daar is altyd iets wat jou terughou, wat jy moet laat gaan.

“Ek voel daar is baie meer wat ons in die lewe kan doen en gee, as jy net al die snert laat gaan. Ek probeer om nie alles te analiseer nie en dat ek beter kan wees – dit gaan oor vryheid,” sê hy.

Scott was onlangs op ʼn vakansie in Bali waar hy tot die besef gekom het dat rykdom en die gejaagde lewe waaraan ons gewoond is, nie belangrik is nie.

“Die mense in Bali leef in soveel eenvoud. Ons sien dit dalk as armoede, maar vir hulle is die eenvoud rykdom. Ons hier in Suid-Afrika is meer kompleks en ons vergelyk onsself met ander. Toe ek besef die lewe gaan oor meer as dit, het my oë, hart en siel oopgegaan.”

Een van die reëls in “Vry” is “Haal net asem” en dít is wat Scott probeer doen en onthou. Wanneer dinge te werk raak vir hom, probeer hy stop, asemhaal en die situasie te hanteer.

Scott het sy loopbaan in die Afrikaanse musiekbedryf 14 jaar gelede as ʼn lid van die mansgroep Hi-5 begin. Hy sê hy het dáár leer dans en dit toe teruggetrek na “Vry” se musiekvideo.

“Ek was nog altyd lief vir dans. Ek en die vervaardiger van die musiekvideo het gesels en hy wou hê ek moet dans in ʼn kubus wat uit ligte bestaan. Ek het dadelik my vriend Harold van Buuren, wat die hoofbeoordelaar van Suid-Afrika se weergawe van So You Think You Can Dance was, gevra om my te help.”

Scott het toe vir ʼn maand lank saam met Van Buuren repeteer voor die musiekvideo geskiet is.

Scott sê “Vry” is ʼn lekker liedjie om jou dag mee te begin, omdat dit ʼn goedvoel-liedjie is. Hy stel selfs voor dat jy dit jou alarm-luitoon maak.

Ná 14 jaar in die bedryf sê Scott dat een ding vir hom uitstaan wat hy oor die jare geleer het: Dat die son groot genoeg is om lig te skyn oor almal.

“Daar is soveel negatiwiteit wat plaasvind dat ons as sangers nie meer mekaar ondersteun nie. Die [Afrikaanse musiek-] bedryf is op die einde van die dag baie klein en ons het dit nodig dat ons mekaar ophou en saam staan. ʼn Mens moet net ander mense se plek in die son en hul talente kan gun,” sê hy.

Behalwe vir sy sangloopbaan is Scott ook ʼn televisie-aanbieder op SABC 2 se Kliphard-musiekprogram, én rig hy jong mense af wat ook sangers wil word.

Hy sê hy is nie op die oomblik besig om aan ʼn album te werk nie, maar dat “Vry” steeds op alle digitale platforms beskikbaar is. Die musiekvideo is ook op YouTube te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.