[Luister] Len Muller: Onwrikbaar in die ‘oog van die storm’

Lennie Muller (Foto: Facebook)

ʼn Storm kan hóé sterk woed – as die fondasie kundig gelê is, sal dit selfs tydens die ergste storms standvastig bly.

Só sê die sanger Len Muller wat juis as gevolg van dié diepsinnigheid – en ook sy sielvolle musiek en blonde krulledos – binne ʼn kort tydperk ʼn groot aanhang gekry het.

Muller se tweede album, Oog van die storm, is vroeër vanjaar vrygestel. Dié titel is ʼn metafoor vir “storms” in mense se persoonlike lewens, vertel hy.

“Ek en Mynhardt Smit, wat saam met my geskryf het, wou iets skryf oor die storm wat rondom mense gebeur en die stilte wat in die middel van die storm kan wees as jou fondasie op die regte plek is. Partykeer is dit ’n “doodgewone avontuur” en soms bevind jy jouself in die “oog van die storm”. Ek weet waar my krag vandaan kom en ek weet waarop my fondasie gebou is. Met dié album wil ek myself én aanhangers net weer herinner dat ek steeds nie besig is om my eie koninkryk te bou nie, maar om aan iets groters te bou. Dit was belangrik om die seisoen waarin ek myself bevind het, op die album vas te vang,” sê hy.

Dié album het ʼn alternatiewe én ʼn kontemporêre aanslag. Gideon Botes het die leiding geneem in die vervaardiging van die kontemporêre liedjies en Francois de Klerk het die alternatiewe liedjies verwerk. Muller sê die doel daarvan is om sy veelsydigheid as sanger ten toon te stel. “Ek hou ook nie net van een tipe musiek nie, en ek wou graag meer as een styl musiek op die album hê. Sommige van die musiek is maklik luisterbaar en ander musiek het baie instrumente – iets waarvoor ek ʼn groot passie het.

“Ek dink ek het as kunstenaar baie gegroei sedert my debuutalbum. Met dié album wou ek myself herinner waar ek vandaan kom en wat ek met musiek wil bereik. Dis maklik om te skryf vir radio of vir enige medium, en te vergeet waar jy vandaan kom. Jy mis maklik jou eie identiteit – maar dit was nog nooit my mikpunt om albums te verkoop of om geld te maak nie. Ek het ʼn passie en ek glo ek is geroep daarvoor.”

Lennie Muller (Foto: Facebook)

Aanhangers én resensente maak dikwels melding van die sanger se gawe vir liedjieskryf. Muller sê vir hom was dit nog altyd net belangrik om opreg te wees. “As jy net eg aan jouself is, gaan jy uitstaan, want almal is verskillend. Ek wil myself nie vergelyk met ander mense nie, want ek is te bang om my passie vir musiek te verloor. ’n Mens moet nooit toelaat dat jou aandag afgetrek word nie.”

“Ek glo”, ʼn enkelsnit vanaf sy nuwe album, het reeds op verskeie treffersparades landwyd gepronk.

“Die gang”, ʼn Laurika Rauch-treffer wat deur Chris Torr geskryf is, kry ook sy eie stempel op die album. Hy vertel dié liedjie het ʼn spesiale storie.

“Ek het vir Laurika Rauch ʼn e-pos gestuur en gevra of ek die liedjie mag sing. Sy het my toe voorgestel aan Chris [Rauch se man] waarna ons begin saamwerk het. Hy is ʼn regte professor – hy stuur toe sommer klomp plekke waar ek die lirieke verkeerd sing en so meer. Hy’t gesê: ‘Jy kan die liedjie sing, maar jy moet hom reg sing.’ Dit was vir my mooi; ek kon leer as kunstenaar. Ek glo die liedjie het mooi uitgekom; ek het ook baie goeie terugvoer van Chris en Laurika gekry.”

Die sanger is nog die hele jaarlandwyd in konsert te sien. Vir meer inligting oor die sanger of besprekings, besoek sy Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Len Muller ·

Hi Cyril,

Baie dankie vir die lekker onderhoud en die mooi skrywe.
Waardeer al die blootstelling wat Maroela media vir my gee en ook dankie dat jul my musiek speel en ondersteun!

Groete Len

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.