Luister: Len Muller se jongste album getuig van geluk, geloof

Len Muller. (Foto: Lens Flare)

Die bekroonde musikant Len Muller beskryf sy jongste album, Oorgenoeg, as ʼn getuienis van die seisoen waarin sy lewe tans is.

Die album, met tien oorspronklike snitte en drie bonussnitte, is deur Jattie de Beer en Gideon Botes vervaardig en is Muller se derde vollengte ateljeealbum.

“Ek probeer so eg as moontlik wees met die skryf van my albums en met Oorgenoeg het ek gemerk dat daar soveel seën, guns en genade in my lewe is,” vertel Muller in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

“Ek en my vrou, Chanel, beleef tans die beste seisoen van ons lewens en ons is baie gelukkig. Die album getuig hiervan en vra juis die vraag oor wat is vergenoegdheid vir jou, en waar jy jou vreugde en jou ‘genoeg’ vandaan kry. Ek glo familietyd en gesondheid, veral ná die jaar wat ons gehad het, is die ware rykdom.”

Die titelsnit van die album is in 2019 uitgereik en is ʼn radiotreffer wat Muller se vaardighede as liedjieskrywer en sanger behoorlik ten toon stel. Dit is ook die eerste liedjie waarin hy saam met sy sussie, Miemie Blaauw, sing.

“Heildronk” wat kort daarna gevolg het, se musiekvideo is reeds meer as 13 000 keer op YouTube gekyk. Die derde enkelsnit, “Toevlug”, wat hy saam met die musikant en sangeres Stella geskryf het, pryk steeds op trefferparades van verskeie radiostasies landswyd.

Die musiekvideo vir “Toevlug” is tydens grendeltyd geskiet en uitgereik en sluit skote in van Muller in sy tuis-ateljee, Stella op haar plaas en ander natuurtonele in en om die Kaap.

Sedert Muller sewe jaar gelede met sy solo-loopbaan begin het, was daar voorwaar baie hoogtepunte op sy pad. Hy het nie net die geleentheid gekry om saam met bekendes soos Stef Bos te werk nie, maar ook om twee suksesvolle albums en sy eie kortspeelplaat – met akoestiese verwerkings van sy bekendste liedjies – uit te reik.

Verder het hy ook die verhoog gedeel met Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Musiek Soos Grond, Francois van Coke, Straatligkinders, Jan Blohm, Bok van Blerk, Chris Chameleon, Jak de Priester, Andriëtte Norman en Dan Patlansky, en homself as liedjieskrywer gevestig.

Muller sonder die liedjie “Klei” uit as een van sy gunstelinge in die album. “Die liedjie lê my baie na aan die hart. Dit is ʼn rou en eerlik en die musiek en lirieke kommunikeer die emosie van die liedjie so mooi. As ek dit reg kry om ʼn emosie deur musiek te kommunikeer en te ontlok in mense se harte, voel ek, ek het my doel bereik.”

Die splinternuwe enkelsnit “Hartklop” is ook saam met die album uitgereik. Die liedjie spog met ’n moderne popklank en gaan oor hoe die donker tye in jou lewe help om jou geloof te slyp. Muller beskou die liedjie as sy beste werk nóg.

“Vir my gaan dit oor Johannes 5: 19. God se hartklop is my beskerming, solank ek daaraan vashou. Dit is moeilike tye wat ʼn mens weer op jou knieë bring waar jy rus kan vind op die Skepper se borskas. Die hele album praat oor die intimiteit wat ek beleef in my verhouding met Hom. ‘Hartklop’ is deel van my getuienis dat ek nie sonder die hemelse Vader sal kan oorleef nie.”

Volgens die sanger behoort hierdie snit baie gewild te wees, omdat dit anders is as sy gewone styl.

“Dit is nie net van Gideon se beste werk as vervaardiger nie, maar ook ʼn baie nuwe en opbouende klank in die Afrikaanse musiekbedryf. Ek hou van ’n uitdaging en ek dink dit het gewerk want ek kan nie ophou luister daarna nie. Daar is net iets aan die liedjie wat in mense se kop vassit.”

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.