Luister: Len Muller stap sy eie pad in die bedryf

Onderhoud deur Leonie Bezuidenhout

Len Muller. (Foto: @paperplanemediasa/Facebook)

Jy sien dit onmiddellik wanneer Len Muller by die vertrek instap. Daardie plat-op-die-aarde‑houding en nederigheid wat weerspieël word in sy warm glimlag en totale onbewustheid van sy eie bekendheid.

Maar vir hom het dit nog nooit oor roem gegaan nie. “Ek wil nie die bekendste kunstenaar op aarde wees of die rykste of die meeste mense by my shows hê nie. Ek wil hê die boodskap [van my musiek] moet by mense uitkom. Ek skaam my dood as ek in ʼn winkel loop en mense herken my, maar hulle ken nie my musiek nie. Dit is iets waarteen ek baklei,” sê hy.

Muller het in 2011 met sy solo-loopbaan begin en sy debuutalbum, Doodgewone Avontuur, is in 2015 uitgereik. Dié album het hom ʼn Ghoema- en ʼn Tempo-benoeming vir manlike kunstenaar van die jaar en nuweling van die jaar besorg.

Sedertdien laat die blondekopsanger se sielvolle musiek en betekenisvolle lirieke net sy aanhangersbasis aanhou groei en is die bekendheid waarvan hy so wegskram eintlik onvermydelik.

Muller het sowat ʼn maand gelede sy nuwe kortspeelplaat (EP), Akoesties, bekendgestel, wat dien as ʼn voorsmakie vir sy volledige album wat later vanjaar uitgereik sal word. Akoesties bevat vyf snitte wat deur die sanger beskryf word as “organies en nie oorvervaardig nie”. En die reaksie tot dusver is oorweldigend positief.

Len Muller se nuwe kortspeler, “Akoesties”. (Foto: Verskaf)

“Die terugvoer is baie positief, maar dit is die individuele mense wat my kontak wat vir my soveel meer beteken as ʼn skare wat mal is oor my,” sê Muller. Een van die liedjies op die kortspeler is “Oorgenoeg”, ʼn liedjie waarop Muller se suster, Miemie Blaauw, saam met hom sing.

Muller sê hy was nog altyd bewus van die feit dat daar mense is wat meer het as wat hulle nodig het, terwyl ander mense doodgaan van die honger, en dit is iets wat nog altyd swaar op sy hart gelê het. Hy vertel ʼn verhaal wat hy eendag gehoor het oor dié konsep, het hom aangegryp en gedien as inspirasie vir “Oorgenoeg”.

“Dit is ʼn predikant wat my vertel het van twee beelde hoe dit in die hemel en in die hel lyk. En in albei is daar hierdie groot tafels met groot bakke vol heerlike kos en almal sit om die tafels om te eet.

“In die hel het almal sulke lang lepels en dan skep hulle van die kos uit die bakke op die tafel. Maar elke keer as hulle die kos na hul monde toe bring, dan val dit van die lepel af en hulle kry niks geëet nie. In die hemel het elke persoon ook so ʼn lang lepel, maar daar voer hulle mekaar en almal eet heerlik.”

Muller sê dié beeld het hom diep geraak en hy het dit saam met hom gedra totdat hy uiteindelik “Oorgenoeg” geskryf het. “Dit was die idee agter ‘Oorgenoeg’. Daardie mededeelsaamheid wat dalk net deel van die oplossing vir die armoede en swaarkry in ons samelewing kan wees.”

Hy beklemtoon dat dit vir hom belangrik is om musiek aan sy aanhangers te bied wat hulle graag wil hoor, maar terselfdertyd getrou aan homself te bly. “Hierdie akoestiese klank met ʼn tjello en banjo is die tipe musiek wat ek die meeste van hou om te luister, so dit kom vir my baie natuurlik om sulke tipe musiek te maak,” sê hy.

Len Muller. (Foto: Facebook via @lenmuller1)

Hy skram weg van die kompetisiekultuur in die vermaakbedryf en sê hy weet goed hoe ʼn groot fout dit is om jouself met ander kunstenaars te vergelyk. “Elkeen het sy eie paadjie wat hy stap. Hoe meer ek hierdie doen, hoe meer besef ek daar is ʼn plek vir my tipe musiek en dit is iets wat ek nie sou geweet het as ek nie getrou gebly het aan wat ek doen nie.

“Ek vra altyd vir myself, glo ek wat ek sing? Ek wil nie op ʼn verhoog staan en iets sing wat ek nie self glo nie. Dit was nog altyd vir my belangrik. Ek het besef as jy eendag ʼn liedjie skryf wat jy dalk tong in die kies geskryf het en dit raak ʼn groot treffer en dan moet jy daardie liedjie vir die res van jou lewe sing, gaan jy dalk spyt wees!”

Akoesties is nie net ʼn bewys van Muller se talent en veelsydigheid nie, maar ook ʼn rou en onopgesmukte produk wat ʼn eerlike blik op die man agter stem gee. “Oorgenoeg” word reeds gespeel op elke radiostasie waaraan die liedjie voorgelê is en op sosiale media stroom die komplimente in.

Maar dit is natuurlik nie waaroor dit vir dié kunstenaar gaan nie. “Ek wil help bou aan die onderstebo-koninkryk waar die laaste eerste is, die kleinste die grootste of belangrikste is, en wie die minste het, eintlik die meeste het… In hierdie koningryk het almal ‘oorgenoeg’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae