Luister: Liefde die begin én die einde, sê Caroline Grace

Caroline Grace (Foto: Facebook)

Liefde is die begin én die einde van elke verhaal, sê Caroline Grace van The Voice-faam – daarom staan dié tema sentraal in haar debuutalbum, getiteld Eindelose liefde, wat pas uitgereik is.

Die sangeres, ook ʼn prokureur en vrou van die Springbokspeler Heinrich Brüssow, sê dié werklikheidsprogram het vir haar ʼn platform in die musiekbedryf geskep waaroor sy al etlike jare droom.

“Enigiets kon skeefgeloop het,” terg sy tydens ʼn onderhoud. “Daar is altyd ʼn moontlikheid dat nie een van die beoordelaars gaan omdraai nie.”

Die sangeres het immers al die pad van Osaka in Japan gevlieg om dié oudisie te kan aflê omdat haar man daar is weens rugbyverpligtinge. Maar dié oudisie was toe wél die keerpunt in haar loopbaan, aangesien Bobby van Jaarsveld die sangeres vir sy span gekies het ná ʼn sielvolle weergawe van “You loved me back to life”.

“Jy hoop jou deelname aan die program kan ʼn platform vir jou loopbaan skep, maar daar is nooit sekerheid oor wat gaan gebeur nie. Ek is dankbaar en voel uiters bevoorreg dat ek nou die geleentheid gekry het,” vertel sy.

Grace sê sy was aanvanklik skepties om aan ʼn talentkompetisie deel te neem. “Ek is nie eintlik ʼn voorstander van kompetisies nie. ʼn Mens wil nie hê jou talent moet in ʼn boksie gedruk word nie omdat elkeen uniek is en verskillende sterkpunte het. Ek het dié stap in geloof gewaag en gehoop dat ek baie genade sal ontvang op my reis op The Voice – en die genade was in oorvloed.”

Eindelose liefde is met ʼn spesifieke doel die albumtitel, vertel sy. In haar lewe én loopbaan is liefde vir haar van alles die belangrikste. “Elke liedjie op die album het te doen met liefde. Op die ou end kan alles herlei word na liefde. Musiek is die een platform waar mense kan agterkom as jy nie eg en getrou is aan jouself nie omdat jy so ontmasker is, en daarom wil ek outentiek wees. En deur outentiek te wees, moet ek voorstander wees van dít waarin ek glo: liefde.”

Caroline Grace (Foto: Facebook/Lynda Gavshon)

Roux Cloete, Neil Schoombee, Vaughan Gardiner en Johan Vorster het die liedjies op die album geskryf. ʼn Enkelsnit vanaf die album, “Ek bid vir jou” – ook geskryf deur Cloete en Schoombee – vertel van twee mense se liefde vir mekaar, maar wat weens omstandighede nie altyd by mekaar kan wees nie. “Ek vind baie aanklank by die liedjie. Toe ek dit die eerste keer gehoor het, het ek my man tien weke laas gesien. Dit is baie moeilik om so lank uiteen te wees asook om balans te kry tussen ons twee loopbane. Ek dink baie mense sal hulle daarmee kan vereenselwig en verlief raak op die lirieke.”

Die sangeres sê hoewel sy in die toekoms die kuns van liedjieskryf wil bemeester, het sy nog nie vir dié album geskryf nie.

Sy sê baie van die liedjies op die album sal herinner aan die liedjies wat sy tydens haar deelname aan The Voice gesing het. “Ek hou veral daarvan om my vokale vermoë ten toon te stel deur baie hoog of laag te sing – iets wat sal herinner aan die liedjies wat ek op die program gesing het. Ek dink egter op dié album wys ek nou meer van myself as voorheen omdat ʼn mens dikwels onder druk is op só ʼn talentkompetisie. Jy kan nie altyd noodwendig sing wat jy wil nie, maar dié keer wys ek my multidimensionele self en deel nou meer van myself as voorheen. Die belangrikste is dat mense die musiek geniet en die stories daarin raaksien – dis al waarvoor ek hoop.”

Eindelose liefde is beskikbaar in musiekwinkels en aanlyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.