Luister: Lizandra Winter oor weerloosheid, wintermaande

Lizandra Winter (Foto: Facebook)

Jare lank het die sangeres Lizandra Winter landwyd saam met Joshua na die Reën getoer en aan haar eie repertorium gewerk. Nou het dié repertorium eindelik gestalte gekry in haar debuutalbum – ʼn album wat nie skroom om “met weerloosheid en eerlikheid” kwessies te takel waarvoor ander wegskram nie.

Die sangeres het vroeër vanjaar ná die bekendstelling van haar duet saam met Joshua opslae gemaak met hul weergawe van die Christa Steyn-treffer “Ek wil vir jou”. Die liedjie het vir haar “spesiale betekenis gehad” en selfs Steyn se seun, Douw, het gesê die kunstenaars se vertolking van dié liedjie bring vir hom “groot vreugde”.

Dié duet is deel van 12 ander oorspronklike snitte in Lizandra Winter – liedjies wat deur haar geskryf is en almal uit haar “binnekamer” kom.

Lizandra vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy is aanvanklik deur Joshua gepor om haar eie liedjies op te neem en te verwerk. Dié kunstenaarsvriende het volgens haar ʼn noue band. “Ek en Joshua het ontmoet toe ons albei jazz aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) studeer het,” vertel sy.

Lizandra tydens die skiet van die musiekvideo vir “Ek wil vir jou” (Foto: Facebook)

“Ek het ná sy eerste albumuitreiking in Augustus 2013 saam met hom begin toer en dis waar die pad vir my begin het. In Julie verlede jaar het ek my eie rigting ingeslaan en nou is ek hier. Nou skryf en sing ek liedjies uit my eie binnekamer – liedjies wat vertel van die pad wat ek gestap het en nog steeds stap.”

Die sangeres sê die musiek in dié album vertel stories waarmee ander kan assosieer, maar dit skram ook nie weg van kwessies soos selfaanvaarding en selfs depressie nie. “Dit wat ek daarbuite wil sit, is eg en iets met ewigheidswaarde. Ek wil graag skryf oor goed wat in my lewe relevant is en wat ook in ander mense se lewe relevant sal wees. Dis nie altyd maklik om oor hierdie dinge te praat nie, maar ek praat openlik en eerlik oor depressie en selfaanvaarding.

“Ek sing oor die plek van gemaklikheid met jouself en om vrede te maak met die seisoen waarin jy jouself bevind. In die wintertye van ons lewens moet ons bereid wees om te leer en toelaat dat die winter ons voorberei vir wanneer die lente kom sodat die lentebloeisels weer kan voorspruit,” vertel sy.

Joshua na die Reën en Lizandra Winter (Foto: Starburst Promotions)

Winter het vir haar spesiale betekenis. Dié seisoen verwys nie net na haar verhoognaam nie, maar daar is boonop ʼn liedjie met dié titel in die album. “Winter is my gunstelingseisoen. Ek het ʼn groot passie en liefde vir die winter. Metafories is dit ook absoluut ʼn deurlopende tema in my lewe. Ek moes leer om die moeilike tye te aanvaar en daardeur te werk. Daarom ook die liedjie op die album – geskryf deur Joshua – wat vertel oor persoonlike groei in jou eie lewe in die wintertye.”

Dis nie aldag maklik om “eerlik” te wees in musiek nie, vertel Lizandra. Vir haar is dit egter nodig sodat sy groei in haar eie lewe kan bewerkstellig. “Ek dink nie daar is enigiemand wat daarvan hou om weerloos te voel nie. Ek voel egter as ons nié bereid is om eg en eerlik te wees nie, sal daar nooit regtig groei en lewe voortspruit nie; dan sit jy maar altyd net ʼn masker op. En dis wat ek nié wil doen nie: Ek wil eerlik wees sodat my musiek vir mense iets kan beteken.”

Twee musiekvideos, onder meer vir die liedjies “Die begin” en “Ek wil vir jou”, is reeds uitgereik. Lizandra Winter is beskikbaar op iTunes.

Vir meer inligting besoek die sangeres se amptelike Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.