Luister: Loki Rothman woeker met sy talente

loki rothmanDie vervaardiger, sanger en kitaarfoendi Loki Rothman is besig om behoorlik opgang te maak in die Afrikaanse musiekbedryf.

Hy bekoor Afrikaanse gehore met sy musiektalente en verwerkings van bestaande Afrikaanse treffers soos “Blou” deur Laurika Rauch en “My kamer” deur Amanda Strydom. Vanjaar het hy weer sy stempel op ʼn immergewilde Laurika-treffer, “Kyk hoe glinster die maan”, afgedruk vir die fliek Liewe Kersfeesvader.

“Ek en Etienne Fourie, die regisseur van die fliek, het saam in die ateljee gesit en ek het gewerk aan die klankbaan,” vertel Rothman. “Die enigste bestaande liedjie op die klankbaan was “Kyk hoe glinster die maan” deur Laurika Rauch. Ek het toe gesê ek sal graag ʼn nuwe weergawe van die liedjie wil doen. Ek het Laurika se toestemming gekry en ʼn orkestrale verwerking van die liedjie gedoen met onder meer viole. Dit is baie nader aan die klank van die musiek vir die fliek.”

Rothman vertel hy het ook vanjaar die geleentheid gekry om op te tree as musiekregisseur vir Bok Radio se Bokkie-musiektoekennings.

“Dit was ʼn eerste vir my,” sê hy. “Dit was ʼn klein bietjie stresvol, want jy sit met ʼn massiewe vertoning waarvoor jy ʼn week het om vir voor te berei. Die kunstenaars kom die oggend in en doen gou ʼn repetisie en dan knyp jy half jou oë toe en hoop vir die beste,” lag hy.

“Ek moes vir ʼn paar kunstenaars soos Leah, Taryn Lamb, Die Broers en Die Heuwels Fantasties keurspelle met hul bestaande musiek uitwerk. Dit is nogal ʼn anderste ervaring om agter die verhoog te staan en jy is die een wat moet sê: ‘Een, twee, drie, gaan nou op die verhoog!’ Stresvol, maar baie lekker. Ek sal dit beslis weer aanpak,” sê Rothman.

Die verhoog bly egter die plek waar hy die gemaklikste is. “Ek het aanvanklik gedink ek gaan die keurspelle in my ateljee in die Kaap uitwerk, maar toe kom ek agter daar is nie iemand wat leiding neem op die verhoog nie en stadig maar seker het ek dié rol oorgeneem. Dit is toe uiteindelik my baba en ek moes seker maak dat die dinge gebeur.”

Rothman vertel hy is tans besig om aan sy eerste Afrikaanse solo-album te werk. “Mense wat my nou al volg oor die jare sal weet ek het myself al in soveel genres van musiek geplaas. Dit voel soos my eerste album – asof ek nou eers my voete en my klank vind. Ek fokus met hierdie album op kitaar en stem.”

“Met my eerste Engelse album, The Way Back, het ek begin rondspeel met elektronika en sintetiseerders. Ek het natuurlik in baie ander kunstenaars se skoene ingeklim as vervaardiger deur liedjies vir byvoorbeeld Jack Parow te vervaardig. Dit het my lank geneem om agter te kom wat my klank is en wat ek moet doen en wil doen,” sê hy. “Ek is besig om te skryf, so die album sal tien teen een einde 2018 uitgereik word.”

Sy jongste Engelse enkelsnit, “Wherever You Go”, is onlangs uitgereik. “Ek sit al die hele jaar op die idee van die liedjie en dit is so ʼn goeie liedjie dat ek dit nie nié wou uitbring nie. Dit werk altyd so dat wanneer ek besig is om Afrikaans te skryf, bring ek Engelse musiek uit en andersom. En as ek nie een van die twee doen nie is ek besig om kitaar te oefen.”

“Wherever You Go” is aanlyn beskikbaar vir aankope. Liewe Kersfeesvader draai tans in fliekteaters landwyd. Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.