Majozi is ʼn trots Suid-Afrikaanse musikant van die hawestad, Durban. Hy is ook nederig en dra sy hart op sy mou, letterlik, want sy tatoeëermerk bring eer aan Jesus en sy ma – twee aspekte wat sy lewe definieer en die musiek wat hy skryf inspireer.
Die jong musikant het homself leer kitaarspeel op die ouderdom van 13, waarna hy jazz en populêre musiek aan die Universiteit van KwaZulu-Natal gestudeer het. Hy is tans besig om opgang in die plaaslike musiekbedryf te maak en het einde verlede jaar geopen vir die internasionale groep, The Lumineers. Majozi het ook al saam met plaaslike sterre soos Matthew Mole, Gangs of Ballet, Zebra and Giraffe en nog ʼn internasionale kunstenaar, Yoav opgetree.
Majozi het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen oor sy nuwe album, wat einde Maartmaand vrygestel is, gesels. Luister na die gesprek hier bo, asook ‘n akoestiese weergawe van sy liedjie, Fire.
Hier is die musiekvideo van sy liedjie, The River: