[Luister] Majozi stel debuutalbum bekend

Majozi. Foto: Facebook via Majozi.

Majozi. Foto: Facebook via Majozi.

Die sanger Majozi sê musiek is die enigste ding waarmee hy wérklik goed is. Daarom stort hy hart en siel in sy musiek uit.

Majozi is ʼn trots Suid-Afrikaanse musikant van die hawestad, Durban. Hy is ook nederig en dra sy hart op sy mou, letterlik, want sy tatoeëermerk bring eer aan Jesus en sy ma – twee aspekte wat sy lewe definieer en die musiek wat hy skryf inspireer.

Die jong musikant het homself leer kitaarspeel op die ouderdom van 13, waarna hy jazz en populêre musiek aan die Universiteit van KwaZulu-Natal gestudeer het.

Hy het vroeër in April sy eerste vollengte-album, Fire, vrygestel. “Ek het voorheen twee enkelsnitte vrygestel, en dink juis dít het my in staat gestel om ʼn album te skep wat spreek van volwassenheid,” het hy verduidelik. “ʼn Vollengte-album was nog altyd ’n groot droom.”

Majozi skryf meestal oor hartsake, maar word ook geïnspireer deur sy geloof en dinge wat rondom hom gebeur. “Daar is baie liedjies oor die liefde, maar alles gaan eintlik oor dinge waarmee mense hulle kan vereenselwig.”

Die sanger het blitsig opgang gemaak en sorg deesdae vir groot gehore wanneer hy optree. “My sukses was wel vinnig, maar ek speel darem ook reeds kitaar vanaf vyfjarige ouderdom. Daar is baie swoeg en sweet in die byna ses jaar vandat ek op die musiektoneel verskyn het,” het hy gesê.

Musiek is sy passie, vertel hy, en dit is ʼn voorreg om musiek vir aanhangers te maak. “Ek was goor in alles wat ek gedoen het, behalwe musiek. Ek het in ʼn stadium selfs by die bank gewerk. Ek het gelukkig ʼn ondersteuningstelsel gehad wat my aangemoedig het om my drome te volg.”

Sy nuwe enkelsnit, “Breathing”, is nou op radiostasies te hoor. “Ek wou iets skryf waarin ek met die elektriese kitaar kon speel. Ek het met dié kitaar geleer en grootgeword. ‘Breathing’ het daaruit ontstaan, asook na aanleiding van stories op die televisiekanaal VH1 waarin die manne van die groep Kings of Leon vertel het hoe die geharwar van die lewe jou soms laat vergeet om net asem te haal.”

Sy musiek moet gevóél word. “Ek wil net hê mense moet huil wanneer hulle my musiek luister,” het hy geskerts. “As een mens iets van my musiek kan neem of ʼn boodskap kry, is dit genoeg.”

Besoek Majozi se Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.