[Luister] Manie Jackson: ʼn Huldeblyk aan die liefde én die lewe

Manie Jackson (Foto: Facebook)

Wanneer iets hom roer – ná welke emosie ook al – gaan sit Manie Jackson meestal met ʼn pen en papier en skryf. Dís immers sý manier van uiting gee, vertel hy tydens ʼn onderhoud. Dán skryf hy ʼn liedjie wat ʼn oomblik of gebeurtenis vir altyd in lirieke kan laat voortleef.

Jackson het pas sy eerste oorspronklike album in drie jaar, Palms van my hande, vrygestel. Sy vorige album wat in 2016 vrygestel is, ʼn konsepalbum getiteld In duet met legendes, het van die rakke gevlieg.

Dalk is juis dié persoonlike vertellings in sy lirieke die bekoring van sy musiek, vertel hy. Vir dié sanger is daar meestal net een metode in die liedjieskryfproses, en dís om self te ervaar en te beleef. Daarom is daar op dié album temas soos romantiese liefde en verlange, familie en geloof.

“As ek iets skryf, gaan dit gewoonlik oor iets wat ek self beleef het. Die liedjies is maar my manier om dinge te hanteer. Dit is die wyse waarop ek uiting gee aan my emosies of die dinge wat ek ervaar. Daar is dus baie van myself in my musiek; veral in die werk wat oorspronklik geskryf is. My liedjies vertel stories en baie van dié stories herinner mense maar aan ʼn tyd wat verby is,” vertel hy.

“Die mense in my lewe” is onder meer só ʼn voorbeeld. Jackson het dié liedjie geskryf nadat sy broer verlede jaar oorlede is. Hy vertel hy loop steeds die pad na aanvaarding, maar kan deesdae dié liedjie sing en die mooi van sy broer se nalatenskap onthou.

“‘Die mense in my lewe’ is ʼn baie emosionele liedjie en dit het baie lank gevat om dit te skryf. Ek het twee sinne geskryf en dan begin huil. My pa is natuurlik ook intussen oorlede, maar ek het dié liedjie wat ek aan my broer geskryf het ook aan hom opgedra en vir hom gesing net voor hy oorlede is. Dit is waar dat ek maar ʼn emosionele tyd agter die rug het, maar ek is in soveel ander opsigte ook geseënd.”

Manie Jackson (Foto: Facebook)

Jackson, wat onlangs aan die sangeres Angel verloof geraak het, het ook saam met dié sangeres ʼn duet op die album. “Ek en Angel werk lekker saam – ons is dikwels saam op toer. Soms roep ek haar saam met my op die verhoog, dan sing sy saam. Die duet op dié album was om haar bloot te stel aan die publiek en natuurlik ook om ʼn mooi storie van liefde te vertel; iets wat die meeste mense maar altyd roer.”

Buiten die liedjies wat deur die sanger geskryf is, het Ray Dylan, Pieter Krugel en Rudi Claase ook help skryf.

Jackson, bekend daarvoor dat sy albums binne kort tydperke goud of platinum haal, sê dat hy ná bykans 20 jaar in die musiekbedryf steeds elke dag nederig daarvoor dankie sê om sy passie uit te leef. “Ek is ontsettend bevoorreg dat my musiek baie goed vaar. My albums verkoop baie goed, selfs in ʼn moeilike ekonomiese fase, en dis hoekom ek tot dusver besluit het om elke jaar nuwe musiek vry te stel. Dit is ʼn voorreg om dit te kan doen waarvoor jy lief is en dat mense jou boonop ondersteun. Daar is een baie belangrike ding wat my ma my reeds as seuntjie geleer het: nederigheid. En dís hoe ek elke dag dié lewe wil omhels.”

Die eerste musiekvideo van Jackson se jongste album is reeds vrygestel. Vir meer inligting oor optredes, besoek die sanger se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annemie ·

Sien uit na jou optrede by Bakgat Somer Opskop. Kaartjies klaar gekoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.