Luister: Marcato gesels oor ‘vrede vir almal’

Marcato-CD-coverDie musiekgroep Marcato, wat bekend is vir hul Simon and Garfunkel-huldeblykalbum, se eerste vollengte Afrikaanse album, Vrede vir almal, is onlangs bekendgestel.

Die groep vertel hul naam is ʼn Italiaanse woord. “Dit beteken om klem te lê op ʼn stuk musiek,” verduidelik Ben van Zyl, voorsanger, klawerbord- en kitaarspeler.

Die res van die groep bestaan uit Pieter Marcato (sang en kitaar), Euan Nel (tromspeler), Jerry Spangenberg (elektriese kitaar) en Erik Swart (baskitaar).

Volgens Ben het hulle noukeurig te werk gegaan om die album se naam te kies. “Die hele album beeld vrede uit van die begin tot die einde,” vertel hy. “Dit gaan oor vrede in jouself, in jou verhouding, vrede in die wêreld, vrede oral. Vrede in alle opsigte van die lewe.”

Die groep, wat meer as ʼn dekade gelede gestig is deur Ben en Pieter, het in 2011 ʼn vollengte Engelse album met die titel When his whistle blows uitgebring. Hul Simon and Garfunkel-album, ʼn album wat saamgestel is uit ʼn huldeblyk-optrede aan dié Amerikaanse groep, het ook opslae gemaak.

“Ons is al ʼn geruime tyd saam as ʼn groep en mense vra ons al lankal wanneer bring ons ʼn Afrikaanse album uit. Ons het ʼn jaar en ʼn half gelede besluit ons wil dit doen. Ons het ʼn jaar lank aan die album geskryf,” vertel Pieter.

Oor die skryfproses is hulle eens dat dit ʼn spanpoging was. “Ons almal kom bymekaar met ʼn paar idees wat ons het. Ons het hierdie album langs die rivier in Parys by Euan-hulle se huis geskryf. Ek en Ben skryf meeste van die lirieke en dan verwerk ons dit.”

Hul eerste enkelsnit se naam is “Silhoeëtte” en volgens Pieter is dié liedjie gebore tydens ʼn toer toe die groep vir twee nagte op Spangenberg se ouers se plaas in Kuruman oorgeslaap het. “Dis pikdonker daar en daar is geen krag aangelê nie,” vertel hy.

“Ons het maar meeste van die tyd deurgebring deur te braai of te kuier. Elke aand, wanneer net die maan die plaas verlig het, was die silhoeëtte van die berge en die maan duidelik. Toe ʼn donderstorm op die tweede aand op die plaas uitsak, is dié liedjie gebore.”

Volgens Ben is daar ʼn paar liedjies wat vir hom uitstaan. “Met elke liewe liedjie het ons baie tyd ingesit. Ons het nie geskryf net om die album vol te maak nie. Ons het gegaan en 10 snitte geskryf vir die album. Mense hou van ‘Bom in die nag’ wat deur Jerry geskryf is.”

“Ons het nog nie negatiewe terugvoer oor die album gekry nie en almal hou van die liedjies. Niemand het nog vir ons ʼn CD teruggebring nie, so dit is ʼn goeie ding,” skerts Pieter. “Ons is baie tevrede met die uitkoms en ons voel goed oor die harde werk wat ons ingesit het.”

Die album is beskikbaar tydens vertonings en by alle groot musiekhandelaars, asook digitaal.  Volg die groep op hul Facebook-blad of besoek hul webtuiste en aanlynwinkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Magda ·

Die album is pragtig, baie goeie liedjies, lirieke wat jou laat dink en wat sin maak. Dis nie net woorde vir n gerommel en skommel nie. Daar is liedjies oor oorlog (Land van sand) oor liefde,(Jy’s die een), vrede, skaduwees en silhouette ens. op die album. Enigeen wat die CD gaan koop sal hom soos ek vir 3 weke lank in die Cd speler los op “auto play”! Baie oulike Kersgeskenk. Baie geluk Marcato, ek wens julle baie voorspoed toe met die CD.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.