Luister: Marno van der Merwe spog met debuutalbum


Marno van der Merwe (Foto: Maroela Media)

Marno van der Merwe (Foto: Maroela Media)

Aanhangers ken Marno van der Merwe nou wel vir sy akteursvernuf, maar dié Modder en Bloed-akteur vertel hy sing al sedert hy in die babadoeke was, en het nou eindelik ook sy debuutalbum uitgereik.

Dié album, Kalm jou army, bevat vier van sy oorspronklike liedjies, en minstens ses ander wat hy help skryf het.

“Ek sing al baie lank, nog voor ek begin toneelspeel het. Die toneelspel het egter die laaste drie of vier jaar baie goed gevaar, en die album wat ek al langer as tien jaar die lig wou laat sien, het heeltyd op die ys beland. Ek is baie bly om dit uiteindelik te kon doen,” het hy gesê.

Die sanger vertel hy het ʼn musiekonderwyseres-ma gehad. Musiek is ook in dié hele familie se bloed. “My ma het kadetorkeste afgerig en landwyd met hulle gewen toe ek baie jonk was. Ek het egter nie musieklesse by haar gekry nie. My broer, my pa en my suster is ook betrokke by musiek, so ek dink dit loop seker maar in die gene.”

Die sanger sê hy het meer as 150 liedjies in sy arsenaal, en kon kies en keur vir dié album. “Musiek op die album is luistermusiek. Ek sou sê dis iets wat jy in jou kar kan luister. Daar is nie “fillers” op die album nie. Ek dink as iemand die album luister, sal hulle hou van al die liedjies, in plaas van een of twee sterk liedjies. Ek sing ook natuurlik oor die liefde.”

Marno sê enigiets inspireer hom. Hy het veral al country en popliedjies geskryf, vir onder andere kunstenaars soos Suzi Swanepoel. “As ek die dag in my huis kom en baie gelukkig voel, sal ek net iets begin skryf wat daardie gevoel vasvang. Ek skryf vir weke nie, en dan skryf ek drie of vier liedjies ʼn dag,” het hy bygevoeg.

Dit is veral ook vir hom belangrik dat hy as veelsydige kunstenaar gesien word. “Ek het so ʼn groot liefde vir die hele bedryf, dat ek net geken wil word as iemand wat alles kan doen – toneel, sing en televisiewerk. Ek wil hê mense moet self hoor ek is ook regtig ʼn sanger en nie net ʼn akteur wat probeer sing nie.

“Die rede hoekom ek glo ek die afgelope paar jaar so besig was, is omdat ek alles kan doen, en bereid is om alles te doen. As jy alles doen, is daar baie meer geleenthede.”

Die album is beskikbaar op iTunes en musiekwinkels landwyd.

Besoek ook sy Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Griet ·

Marno, ek het al lankal gewonder wanneer jy ‘n album gaan uitbring want jy het jou goed laat geld in die liedjies wat jy in Sterlopers gesing het. Ek is waarlik trots op jou. Groete, Ou Grote?

Ruan ·

My ma vrek oor Marno!!!!!!
Sodra die CD uit is Koop ek hom!
Ek het respekte vir sy talent. Hy is trots Afrikaans.
Welgedaan ou vriend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.