Luister: Maroela-leser se ode aan Morné Steyn

Morné Steyn laat waai met die regtervoet. (Foto: GB Jordaan.)

Toe die Springbok-losskakel Morné Steyn in Augustus vanjaar vir die tweede agtereenvolgende Leeus-toer die Britte se harte breek, het Johnny Vermeulen besluit dit is tyd om die liedjie wat hy oor sy rugbyheld geskryf het met die wêreld te deel.

Vermeulen, ʼn pensioenaris van Pretoria en stoere rugbyondersteuner, vertel aan Maroela Media dat die 37-jarige Steyn sy held is.

“Hy is myns insiens die beste losskakel ter wêreld. Ek het ook die voorreg gehad om hom ʼn rukkie gelede op ʼn gholfdag te ontmoet by die Pecanwood-gholfbaan op Hartbeespoort, en dit was vir my oorweldigend watse plat op die aarde, vriendelike mens hy is. Hy het ook die tyd geneem om ʼn foto saam met my te neem.”

Vermeulen, wat kleintyd al leer kitaar speel het, het die volgende dag in sy tuisateljee gesit en speel toe die idee van ʼn liedjie oor Steyn by hom opgekom het.

Johnny Vermeulen en Morné Steyn. (Foto: Verskaf)

“Ek het begin navorsing doen oor hom en toe eers besef hoeveel rekords die man eintlik agter sy naam het. Ek het die hoogtepunte uitgelig en aan die lirieke en wysie begin skaaf. Dit het my so drie weke geneem om die liedjie te voltooi.”

Dié liedjie het eers onder in die laai beland, maar toe Steyn in Augustus weer met sy goue skopvoet die rugbywêreld aan die gons het, het hy besluit om ʼn laaste versie oor Steyn se jongste sege by te voeg.

Daarna het hy die kans gewaag en die liedjie vir Maroela Media aangestuur.

“Ek is nie regtig ʼn liedjieskrywer nie en dié ode aan Morné is maar my tweede poging tot ʼn volwaardige liedjie. Ek wou dit baie graag deel en hoop dat hy ook daarvan sal hou.”

  • Luister na die liedjie bo-aan die berig.
  • Die Springbokke speel Sondag om 12:05 in die Cbus Super-stadion in Queensland, Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Soethappie ·

Wat ‘n oulike gedagte. Mooi ‘ode’ en luisterryke wysie, mens wil saam neurie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.