Luister: Martin Bester neem Pta-musiekfees op horings

Monte De Dios in Pretoria is slaggereed om op 5 en 6 Maart vanjaar die Proe’toria-fees aan te bied. (Foto: Facebook/Proe’toria)

Martin Bester, die gewilde sanger en radio-omroeper, gaan in Maart saam met ʼn hele rits gesogte kunstenaars Pretoria op horings neem by die immergewilde Proe’toria-fees.

Dié fees word vanjaar by Monte De Dios in die ooste van die Jakarandastad aangebied. Bester en sy orkes staan saam met groot sterre soos Ampie, Jo Black, Karen Zoid, Die Heuwels Fantasties, Riana Nel, Refentse, Early B, Janie Bay, Jemma Catherine en Dagbreek gereed om feesgangers op die verhoog te bederf.

Terwyl dié kunstenaars se gewilde treffers weerklink, gaan daar ook onder meer boetiekjenewer, niswyne, konfyte en bier geproe kan word en gourmet-kosstalletjies sal sorg vir heerlike eetgoed.

Die gewilde JacarandaFM-persoonlikheid, Thabiso Khambule, is die naweek se gasheer en talle pryse gaan aan gelukkige feesgangers weggegee word. Die kleinspan kan ook na hartelus in ʼn veilige speelpark baljaar waar hulle die hele dag besig gehou sal word.

“Vir twee jaar het ons weens die pandemie nie die woord ‘fees’ gehoor nie en Proe’toria is een van die grootste feeste in Pretoria met ongelooflike kunstenaars wat daar te sien is. Ek is baie bly dit kan weer vanjaar aangebied word en sien uit daarna om vir die eerste keer ook deel te wees daarvan,” het Bester in Maroela Media se ateljee gesê.

Hy het einde verlede jaar getref met die enkelsnit “Lilly”, wat sedertdien ʼn gewilde radiotreffer is. Die liedjie is geskryf deur Bester en Pierre Rossouw en is vervaardig deur Tjaart van der Walt.

“Ek weet nie of jy al ooit by Monte De Dios was nie – wat ʼn plek! Dit is ʼn pragtige venue met groot skerms en klank en ek was gelukkig genoeg om verlede jaar twee konserte daar aan te bied. Dit is ʼn asemrowende venue.”

Volgens Bester, wat onlangs by Coleske Artists aangesluit het, moet feesgangers en musiekliefhebbers “trots en dankbaar wees” dat venues weer die moed het om feeste van dié kaliber aan te pak.

“Ná alles wat ons deurgemaak het, is die vraag ‘gaan jy die kans waag, gaan jy dit doen’, en die antwoord is ‘ja, uiteindelik weer’! Kan jy agterkom ek is opgewonde?” het hy laggend gesê.

Die Proe’toria-fees bied vanjaar talle kos- en drankstalletjies. (Foto: Facebook/Proe’toria)

Bester en sy orkes is op Saterdag 5 Maart op die verhoog en die fees gaan op Sondag 6 Maart voort. Die feestye is om 10:00 tot 19:00 en die hekke sluit om 21:00 en op Sondag om 18:00.

“Jy kan sien mense is net so uitgehonger vir musiek en feeste soos die kunstenaars is. Hulle weet hulle moet dit nóú doen. Die pandemie het ons só verander, mense vra nie meer wat is jou twee-jaar-plan nie. Hulle vra ‘wat maak jy dié naweek’ en sê ‘kom ons doen dit’! Die venues, kunstenaars en feesgangers verdien dit om weer bietjie te kan uitkom.”

Whitley Neill Handcrafted Dry Gin, deel van die Halewood-groep, is vanjaar se amptelike naamborg wat Proe’toria moontlik maak in samewerking met EPH Group, Maroela Media, The Marketing Zoo en Caring Daisies.

Kaartjies vir Proe’toria verkoop reeds vinnig met spesiale BBP-pakkette wat nog tot middel Februarie teen ʼn afslagprys van R750 beskikbaar is. Dié pakket sluit BBP-toegang, BBP-parkering, middagete, onbeperkte water en ʼn bottel wyn in.

Daar is slegs ʼn beperkte aantal van dié kaartjies beskikbaar en dit is geldig vir al twee dae van die fees. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by Tixsa.

Besoek Proe’toria op Facebook, Instagram of Twitter vir meer inligting.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Martin Bester.

WEN: Een gelukkige leser kan ʼn dubbel-VIP-kaartjie na die Proe’toria-musiekfees op Saterdag 5 en Sondag 6 Maart wen. Die kaartjies sluit BBP-toegang, BBP-parkering, middagete, onbeperkte water en ʼn bottel wyn in. Die kompetisie sluit Donderdag 24 Februarie om middernag en die wenner sal op Vrydag 25 Februarie via e-pos in kennis gestel word.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Een deelnemer word lukraak as wenner aangewys.
  • Die organiseerders sal die kaartjies direk per e-pos na die wenners toe stuur en alle verdere navrae hanteer.
  • Elke wenner ontvang ʼn dubbelkaartjie om die Proe’toria-musiekfees op 5 en 6 Maart by Monte De Dios by te woon.
  • Die beoordelaars se besluit is finaal en geen korrespondensie sal gevoer word nie.
  • Die pryse kan nie vir kontant geruil word nie.
  • Wenners is self verantwoordelik vir enige koste om die geleentheid by te woon, soos reis, verblyf, etes en drinkgoed.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Maroela Media mag met deelnemers kontak maak vir vrywillige ondersteuning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.