Luister: Martin Bester verras met Afrikaanse reggae-snit

Martin Bester kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Martin Bester kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Martin Bester, die gewilde Jacaranda FM radio-omroeper en televisiepersoonlikheid, is ook bekend as sanger vir die Engelse musiekgroep Kinky Robot. Hy het egter onlangs die Afrikaanse musiekmark betree met sy solo-debuut, Vir die eerste keer.

Hy vertel in die Maroela Media-ateljee sy jongste enkelsnit, “Konings”, het ʼn pop-reggae-aanslag en is geïnspireer deur die nostalgie van somervakansies by die see.

“Ek maak in Desember altyd seker dat ek op twee plekke uitkom: Een is by my familie in die Karoo en dan bring ek ook altyd tyd by die see deur. Daar is altyd daai een oomblik wanneer jy op die strand staan en alles voel net reg; jy is saam met jou pelle en daar is miskien ʼn vuurtjie wat brand en die son wat ondergaan – en dan voel jy net soos ʼn koning,” vertel Bester oor dié snit, wat hy in samewerking met Dolf Willemse en Ewald Janse van Rensburg geskryf het.

Hy vertel hy het ná skool by ʼn vakansieoord genaamd Sea Acres, reg oorkant Hobie-strand in Port Elizabeth, en ook later by die strandkantoor, gewerk. “Ek het dus baie tyd van my lewe op die strandfront deurgebring, so ek het baie goeie en interessante herinneringe van die kus, die see en die strande,” lag hy.

“Ek doen in my optredes altyd so een Bob Marley-liedjie en ek het agtergekom dit maak nie saak wie die gehoor is, hoe oud hulle is of waar hulle vandaan kom nie, die liedjie gee vir almal ʼn goedvoel, vrolike gevoel en “Konings” doen dit ook. Die reaksie op die liedjie tydens my optredes is altyd goed.”

Bester is een van Suid-Afrika se gewildste radiopersoonlikhede en het ook al sy lyf aanbieder van ʼn paar televisieprogramme, onder meer Wie’s my Liefie op VIA, gehou. Hy het ook klein rolle gespeel in Afrikaanse rolprente soos Pretville, Vrou soek boer en Sonskyn Beperk.

Hy vertel laggend dat die lirieke van die eerste enkelsnit wat hy saam met die Sama-benoemde groep, Kinky Robot, uitgereik het, in ʼn Engelse handboek vir gr. 11 ingesluit is.

“Ek kan nou nie meer onthou van wie af dit gekom het nie, maar ek kry eendag ʼn e-pos wat sê dat dié mense graag die lirieke van “Hobie Beach” wil gebruik in ʼn Engelse handboek en hulle wil weet wat die koste daaraan verbonde gaan wees. Ek het toe vir hulle gesê hulle kan dit maar net gebruik, want dit is vir my ʼn ongelooflike groot kompliment,” vertel hy.

“Hoe meer opreg jy skryf, hoe beter. “Hobie Beach” gaan baie oor my persoonlike lewe, spesifiek oor die tyd toe ek by die vakansieoord gewerk het.”

Bester vertel hy beplan nie in die nabye toekoms om weer ʼn vollengte album uit te reik nie, aangesien luisteraars deesdae meer geneig is om enkelsnitte op digitale platforms aan te koop.

“As jy na die groter kunstenaars kyk is dit duidelik dat mense minder CD’s koop, maak nie saak wie jy is nie. So ek dink nie daar is enige dringendheid vir ʼn CD in hierdie stadium nie.”

“Konings” is beskikbaar vir aankope op digitale platforms soos iTunes, Apple Music en Spotify.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

@Dennis ·

Net so Dennis, net omdat iemand ‘n pen dra, beteken dit nie hy kan skryf nie.

Andre ·

Hy moet begin besef hy is nie Steve Hofmeyr nie. Die gewilde Martin Bester is nie baie gewild by MM lesers nie ,soos gestaaf deur die kommentare hierbo.

Johan ·

baie snaaks… nog nooit kon ek die ampere self-gemaakte “obesessie” met en gewildheid van radio-dj’s of enige “celebrity”, verstaan nie. “Skoenmaker hou jou by jou lees”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.