Luister: Michael Blignaut ʼn nuweling op die Afrikaanse musiekhorison

Michael Blignaut kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Michael Blignaut kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Michael Blignaut, ʼn nuweling in die Afrikaanse musiekbedryf wat luisteraars se aandag getrek het met sy eerste enkelsnit, “Naglig”, het in ʼn musikale huis grootgeword waar musiek altyd van vroegoggend af reeds in die huis weerklink het.

“My oupa, wat ongelukkig nie meer met ons is nie, was ʼn baie talentvolle musikant,” vertel Blignaut in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Hy was in ʼn musiekgroep as jong seun en het vele musiekinstrumente bespeel. As ons as kinders by hom gaan kuier het in die Vrystaat, het hy sy banjo, kitaar en konsertina uitgehaal en al die kleinkinders het by sy voete gesit. Hy het ons die hele aand lank vermaak tot in die vroeë oggendure,” onthou Blignaut.

Hy glo dit is waar musiek ʼn groot deel van sy lewe geword het. “Ek het toe besluit dat ek die geleentheid moet gebruik om te kyk wat ek kan doen met musiek. Ek dink as dit ʼn integrale deel van jou lewe is, moet jy kyk hoe ver jy daarmee kan gaan. Dit is nie sonder goeie rede daar geplaas nie.”

Blignaut vertel hy het op skool in konserte en in die koor gesing en die gevoel van die verhoog gekry. “Dit is ʼn baie lekker gevoel om op die verhoog te wees en ek wou graag my vlerke in die musiekbedryf sprei,” sê hy.

“Naglig” is reeds verlede jaar as enkelsnit bekendgestel en Blignaut vertel dié snit gaan oor die persoon wat die lig in jou lewe is. Die lied is geskryf deur die sanger en liedjieskrywer Vaughan Gardiner en sy vrou, Nerine.

“Toe ek besluit het dit is tyd om ʼn enkelsnit op te neem, het ek by Vaughan om hulp gaan aanklop. Ons het uit die staanspoor goed oor die weg gekom en dit was net ʼn plesier om saam met so ʼn professionele en musikale genie te kon werk,” sê die sanger.

“Ek hou van lirieke wat ʼn mooi storie vertel en glo dat die meeste ouderdomsgroepe by my eerste liedjie sal aanklank vind. Ons, as mense, is tog van liefde aanmekaargesit. Ek glo ook dat liefde vir geen twee mense dieselfde is nie. As jy na ʼn liefdesballade luister, maak dit verskeie emosies in jou wakker wat jou op daardie oomblik goed laat voel.”

Die musiekvideo vir die liedjie is op ʼn koue Woensdagaand in Johannesburg geskiet. Clarice Pieterse en Wiehan van Wyk vertolk die hoofrolle in die video. “Hulle het mekaar daardie dag vir die eerste keer ontmoet, maar daar was dadelik ʼn vonk tussen hulle. Clarice is in die musiekbedryf, so sy is baie op haar gemak voor die kamera en hoewel dit Wiehan se eerste keer was, was hy slaggereed daarvoor.”

Sy jongste enkelsnit, “Hemelwater”, is ook deur die Gardiner-egpaar geskryf en volgens Blignaut is dié snit deur hul eie verhouding geïnspireer.

“Dit is vir my ʼn baie groot eer dat Vaughan ʼn liedjie wat hy self kon opneem vir my gegee het,” sê Blignaut.

Mila Guy in 'n skermgreep uit Michael Blignaut se splinternuwe musiekvideo vir 'Hemelwater'.

Mila Guy in ‘n skermgreep uit Michael Blignaut se splinternuwe musiekvideo vir ‘Hemelwater’.

Jay Loots van Fathom Media het weereens die musiekvideo vir dié snit behartig. “Ek is baie bevoorreg om die bekende aktrise, Mila Guy, te kon gebruik vir die video. Sy het die oggend voor ons geskiet het van die US Woordfees in die Kaap af teruggevlieg en by ons op die stel aangesluit. Ons het die eerste gedeelte in ʼn ateljee geskiet en daarna uitbeweeg na ʼn park toe waar my en Mila se gedeeltes by mekaar uitkom.”

Hoewel hy beplan om binne die volgende jaar ʼn vollengte-album uit te bring, hou hy ook daarvan om dinge in drie te doen en wil hy dus eers binnekort nog ʼn enkelsnit uitreik.

“Ek wil mense bewus maak daarvan dat daar ʼn Michael Blignaut is wat die musiekbedryf instap,” sê hy.

“Naglig” en “Hemelwater” is beskikbaar op iTunes, Deezer en Spotify.

Kyk hier na die splinternuwe musiekvideo vir “Hemelwater”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.