Luister: Mini-dokumentêr vier Briels

Die Briels se seun, Frans. (Foto: Verskaf)

Met liedjies soos “Die trein na Pretoria”, “Die Mynerslied” en “Ter nagedagtenis aan 435 mynwerkers” het Die Briels in die vyftiger- en sestigerjare uiting gegee aan die werklikheid van ʼn werkersklas-lewe.

Dié legendariese duo, met Frans en Sannie Briel, se musiek was uiters gewild onder ouer luisteraars, en die temas waaroor hulle geskryf het, was dikwels “swaar”.

“Die Mynerslied”, wat in 1961 uitgereik is, is ʼn somber herinnering aan die Coalbrook-mynramp waarin 435 mynwerkers dood is, terwyl “Die trein na Pretoria” die treurige verhaal is van ʼn meisie wat vir haar sterwende ma in Pretoria wil gaan kuier.

“Die trein na Pretoria” is sekerlik die bekendste treffer van Die Briels en dit is in 2015 deur Maroela Media tydens hulle Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog as een van die top-10 treffers in die tradisionele kategorie benoem.

Stanley Cierenberg (links) saam met die Briels-kinders, Anita en Frans. (Foto: Verskaf)

Stanley Cierenberg, ʼn geesdriftige aanhanger van Die Briels, praat in Maroela Media se ateljee oor sy belangstelling in die groep se musiek, sy ontmoeting met Frans en Anita, die Briels se kinders, en die video-insetsel wat hy oor hulle gemaak het.

Cierenberg deel ʼn staaltjie van Die Briels wat in 1990 by die Houtstok-fees in Pretoria gesing het. Buiten dat die optrede op sigself ʼn geskiedkundige gebeurtenis was, het die jillende aanhangers ook gesorg vir ʼn komiese oomblik of twee.

“Ek het van jongs af na Die Briels geluister en altyd gewens ek kan hulle ontmoet, maar in daardie jare was daar nie iets soos sosiale media nie en daarom was dit nie juis maklik om kontak te maak nie,” sê hy.

Sowat drie maande gelede het Cierenberg toe vir Frans Briel (76) en sy vrou, Nelia, in Lydenburg gaan kuier. Hy het ook hulle dogter, Anita, ontmoet en sedertdien baie tyd saam met hulle deurgebring.

Op die vraag oor waarom hierdie legendariese groep destyds so gewild was en na wie daar steeds verwys word, sê Cierenberg dat dit hulle opregtheid is.

Die Briels se kinders, Anita en Frans. (Foto: Verskaf)

“Die Briels was deurgaans eerlik en opreg in hulle musiek. Hulle het ook empatie getoon, maar daar is een ding wat jy raaksien en dit is liefde,” meen hy.

“Nog iets wat vir my so kosbaar is, is die manier hoe Frans en Anita steeds met soveel respek van hulle ouers praat.”

Cierenberg het onlangs ʼn video-insetsel gemaak van sy besoeke aan huis by Frans en Anita.

“Dit is nie iets waaraan ek maande lank beplan of gewerk het nie. Toe ek die dag by Frans sit terwyl hy sommer so gemaklik op die kitaar speel, het ek net geweet dit is ʼn oomblik en geleentheid om iets spesiaals vas te vang.”

Maroela Media het vroeër berig dat Cierenberg, ʼn digter, skrywer en plaasmoord-aktivis, die FAK se embleem op sy borskas laat tatoeëer het.

Twee digbundels, Vaderland en Moedertaal, het al uit Cierenberg se pen verskyn. Hy het ook bekendheid verwerf vir sy eindelose empatie met slagoffers van plaasaanvalle. Hy woon hofsake en begrafnisse by en skryf gedigte vir die slagoffers en hulle geliefdes. Dele van sy gedigte is saam met die slagoffers se name op sy lyf getatoeëer.

Kyk hier na Stanley Cierenberg se insetsel oor sy besoek aan Die Briels se kinders, Frans en Sannie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.