[Luister] My hart klop vir Afrikaans, sê Refentse

Refentse (Foto: Facebook via Refentse)

Refentse (Foto: Facebook via Refentse)

Die sanger Refentse, sê hy moet homself kort-kort knyp wanneer hy aan sy wegholsukses dink, maar hy wil bloot sy passie – om musiek te maak – uitleef.

Refentse was byna onmiddellik ʼn gunsteling onder Afrikaanssprekendes nadat ʼn verbyganger hom met ʼn selfoon afgeneem het terwyl hy ʼn Afrikaanse liedjie gesing en op sy kitaar getokkel het.

“Ek weet nie regtig wat om daarvan te dink nie – dit alles het so vinnig gebeur,” sê hy. “Ek is so dankbaar vir die talent wat ek by ons Hemelse Vader gekry het.”

Sy unieke storie het duisende Suid-Afrikaners se aandag getrek. Afrikaanse musiek het hom lief gemaak vir die taal én musiek. “Ek was in ʼn Afrikaanse skool, maar my ouers kon nie Afrikaans praat nie. Hulle kon my dus nie die fyner dinge leer nie. Ek moes toe na Afrikaanse musiek luister om die taal beter te leer ken. Vandaar het ek ʼn groot liefde vir die taal ontwikkel.”

Hy vat maar nog elke dag soos dit kom. “Ek beplan nie te veel nie, maar ek wil net die reis so ver as moontlik vat. Dis vir my belangrik om vir mense te wys musiek gaan nie oor ras of taal nie, maar oor hoe dit mense laat voel,” voeg hy by.

Die sanger het onlangs ook sy debuutalbum, My hart bly in ʼn taal, vrygestel. “Die liedjies op die album is goue oues van kunstenaars soos Koos du Plessis, Laurika Rauch en Chris Blignaut. Die ou skoen pas beter en dis musiek waarmee ek grootgeword het wat ek graag wil sing.”

Die album bevat ook twee liedjies uit sy pen. “Ek het ʼn liedjie geskryf oor ons 40 dae-feesviering, wat elke skool se matrieks vier wanneer daar net 40 dae van die skoolloopbaan oor is. Die liedjie, “Baby, wat eet ons vanaand?”,  is geskryf oor ʼn meisie op wie ek verlief was, maar dit het nie uitgewerk nie.”

Die eerste musiekvideo van die album, die Laurika Rauch Medley, is ook onlangs vrygestel.

Besoek Refentse se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hugo van Niekerk ·

Ek het die aan al my vriende gestuur. Dis fantasties! Wys jou net Afrikaans is almal se taal!

Erika ·

Wow. Baie mooi, praat en sing pragtig Afrikaans!! Wow, dit is regtig baie mooi!!

CharlB ·

Refentse, ek is op pad om jou cd te koop! Baie unieke stem.

charlene ·

Dis die ou musiek wat so mooi is.
Jy het `n amazing stem en sing ongelooflik mooi. Afrikaans is `n baie mooi taal, en ons is bly om te sien jy geniet ons taal so baie.
Sterkte vir jou loobaan voorentoe

Veretha ·

Ek haal my hoed af vir die jong man. As ons as Afrikaners meer musiek aanleer van ander tale sal daar dalk ook groter begrip en verdraagsaamheid ontwikkel. Afrika tale sing net so lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.