Luister: My musiek moet hoop gee, sê Manie Jackson oor nuwe album


Manie-Jackson-03

Manie Jackson. Foto: Manie Jackson/Facebook.

Die sanger Manie Jackson het onlangs sy jongste album, In duet met ons legendes, vrygestel. As aanhangers een ding van dié musiek moet saamneem, is dit hoop, vertel hy.

Manie se jongste album bevat ʼn reeks duette met bekende countrylegendes soos Clive Bruce, Min Shaw, Gé Korsten en Bles Bridges.

Die sanger sê hy wou dié projek al ʼn geruime tyd aanpak.

“Laas jaar, toe Sally Vaughan onverwags siek geword het en toe Kupido vanjaar oorlede is, het ek niks van hulle in die nuus gesien nie, en dit het my baie hartseer gemaak dat hulle nie onthou word nie. Dié album is om die mense te vereer en te onthou vir dit wat hulle gedoen het.”

Nuwe tegnologie is onder meer gebruik om die duette met Bles en Gé op te neem. “Ou meesterbande moes in die argiewe gesoek word vir dié album. In daardie tyd is agt of sestien kanale opgeneem tydens die opnameproses, en elke kanaal was ʼn instrument of sy stem. Ons kon een van die kanale gebruik en by my stem voeg om dit ʼn duet te maak.”

Countrylegendes wat op die album gehoor kan word, met die uitsondering van Gé, is almal sangers saam met wie Manie ʼn lang pad stap. “Dit is die mense saam met wie ek gewerk het. Daarom wou ek hulle op hierdie manier vereer. Ek is ʼn baie sentimentele mens, en die geskiedenis van Afrikaanse musiek is vir my baie belangrik. Ons is nog nie op die plek in Suid-Afrika waar geskiedenis hieroor volop is nie, en ek hoop dit gaan verander.”

manie-jackson-in-duet-met-ons-legendes

Manie Jackson se nuwe album “In duet met ons legendes”. Foto: Pietercloete.com

Die sanger kan egter die liedjie “Trein na Pretoria” op die album uitsonder. “‘Die Trein na Pretoria’ is vir my baie spesiaal. Dis 60 jaar nadat Die Briels die eerste keer die liedjie gesing het, maar dieselfde generasie, die twee kinders van Die Briels, sing dit nou weer saam met my. Die opname saam met Sally Vaughan is vir my ook baie spesiaal, omdat dokters gesê sy sal nie regtig weer mag sing nie,” het hy bygevoeg.

Met al sy suksesvolle albums, bly dit vir hom die belangrikste om mense opnuut hoop te gee met sy musiek. “As ek iemand kan help in die lewe, is dit vir my genoeg. Dikwels is dit net iets wat ek tydens ʼn optrede sê. Ek sal sommer begin praat oor egskeidings, en dan sal mense later ʼn boodskap stuur en vertel dit het vir hulle baie beteken.

“ʼn Vrou het eendag vir my gesê sy wou selfmoord pleeg. Sy het egter na my liedjie “Die hemel weet” geluister, en daarna besluit haar lewe het wel nog ʼn doel hier op aarde. Dit is sulke dinge wat vir my spesiaal is.”

In duet met ons legendes is beskikbaar in musiekwinkels landwyd.

Vir meer inligting, besoek Manie se Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Violet ·

Manie jy mag maar sing! Elke liedjie van jou is die moeite werd om na te luister, hierdie nuwe CD van jou is baie besonders!

Liana ·

ek het nog nie die nuwe cd gehoor nie maar ek is oortuig dit sal uiters goed en gewild wees. Ek hou geweldig van jou Musiek Manie.
baie dankie dat jy aan ons siek en af gestorwe afrikaanse sangers/sangeresse eer gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.