Luister: My musiek moet mense laat dans en glimlag, sê Kurt


Kurt Darren (Foto: Maroela Media)

Kurt Darren (Foto: Maroela Media)

Hy wil net weer ʼn glimlag op mense se gesigte sit, sê die sanger Kurt Darren, en met sy jongste album sommer ook mense aan’t skoffel kry.

Die Afrikaanse sanger het in 2016 sy 20ste goue vrystelling bereik, en het vroeër vanjaar sy jongste album, Sal jy met my dans?, vrygestel.

“Ek dink mense ken my vir my dansmusiek deur die jare. Ek hou daarvan om verby ʼn straatpaal te ry en nie net die negatiewe goed te sien nie, maar ʼn glimlag op ʼn mens se bakkies te sit. Dit is ook wat ek wil hê my musiek vir mense moet beteken,” het hy vertel.

Die sanger het die afgelope 13 jaar elke jaar ʼn nuwe album in November vrygestel, afgesien van 2015. “ Ons het dié jaar die album aspris teruggehou om mense ʼn bietjie uit te honger vir Kurt. Selfs ek kan nie meer onthou watter liedjies op watter album was nie, en ek wou dit ʼn slag anders doen.”

Kurt is bekend vir treffers soos “Meisie meisie”, “Voorwaarts Mars” en “Vat my maak my joune”.

“Ek skryf ten minste 95% van al die liedjies op die albums wat ek vrystel. Ek geniet dit egter om nuwe mense se skryfwerk te sien en dit in te sluit by my musiek. Met die nuwe album het ek onder andere saam met Loki Rothman gewerk.”

Aanhangers kan uitsien na ʼn verskeidenheid musiek op die album. “Vir vier van die liedjies het ons die 80’s se tipe musiek gekies, maar daar is ook lekker sokkieliedjies en ballades. Ek het ook die liedjie wat ek en Karen Zoid op haar program gesing het, ingesluit. Die opname is presies soos ons dit opgeneem het daardie dag,” het hy bygevoeg.

“Ek sê altyd my albums is soos ʼn lucky packet – jy weet nooit wat jy gaan kry nie. Ek wil net hê mense moet dit geniet.”

Hy beplan om nog minstens twee musiekvideo’s, Vlinders en Engel ek sal jou saamvat, vry te stel later vanjaar.

Aanhangers kan hom ook sien in die Super Sokkie en Krone-konsert. Kaartjies is te koop by Computicket.

Besoek Kurt Darren se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jenny Thom ·

Hi daar Kurt
Ai, tog wat ‘n heerlike saam sing, saam dans liedjie is “kom dans met my” nie.
Whao, dit was so wonderlik, en ek kon nie wag om te hoor wie die sanger was nie.
Jy het jouself oortref.
Ek belowe jou, jy moes my sien. Heerlike steps uitgehaal, so stoksiel-alleen.
Jy het op ‘n stadium gemeld dat jy wil hê “jou mense” moet meer dans.
Dit is waarlik ‘n bevestiging daarvan.
Bravo en well done!!!
Ek sal definitief een of ander tyd vir my jou nuutste CD aanskaf.
Vriendelike groete,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.