Luister: My musiek moet mense laat droom, sê Chrizaan

Chrizaan (Foto: Maroela Media)

Chrizaan (Foto: Maroela Media)

Die sangeres Chrizaan stel binnekort haar vierde album bekend, en vertel dié album is gemik op ʼn meer volwasse gehoor. Sy meen ook die album, propvol liefdesliedjies, gaan die hartsnare behoorlik roer.

Dié sangeres, wat bekend is vir liedjies soos “Lollipop”, vertel sy het in 2013 besluit om onafhanklik musiek te maak, sodat sy haar eie stempel op haar musiek kan afdruk.

“Ek het in 2013 my eie projek begin. Ek het besluit ek wou meer betrokke wees by my jongste album en moes dus my eie album finansier. Ek moes self die liedjieskrywers nader en het veral saam met Vaughan Gardiner gewerk aan die album,” het sy vertel.

Sy sê dit is veral haar meer volwasse aanhangers wat dié album gaan geniet. “Ek was eintlik nog ʼn kind toe ek agt jaar gelede gesing het en daarom het my musiek dit ook weerspieël. My musiekstyl het intussen begin groei en verbeter. Hoe ek was en hoe ek nou is, verskil baie van mekaar. My musiek is meer volwasse en die lirieke het baie meer betekenis as wat dit voorheen gehad het.”

Sy vertel ook dat Vaughan Gardiner, wat veral bekend is vir sy liefdestreffers soos “Gooi jou arms om my”, se invloed prominent te voorskyn kom op die nuwe album. “Omdat ek so nou saam met Vaughan gewerk het, is baie van my liedjies ook romantiese liedjies, omdat dit veral iets waarvoor Vaughan ʼn passie het,” het sy bygevoeg.

Dié album het ook ʼn sentrale tema. Chrizaan sê sy hoop veral dat dit mense gaan hoop gee. “Mens moet nooit ophou probeer nie en aanhou droom. Ek kon lankal ophou sing as ek wou, maar ek het nie, omdat dit my passie is. Ek hoop en droom nog elke dag en wil dit ook vir ander mense verseker.”

Die sangeres het ʼn vyf jaar kontrak met David Gresham geteken, en vertel dat dié vennootskap baie deure vir haar gaan oopmaak. “David Gresham was veral betrokke by die ontwerp van die album. Ek dink ons gaan ʼn wonderlike pad saam stap en is opgewonde oor die toekoms.”

Sy beplan om in 2017 met dié album te toer.

Die eerste enkelsnit vanaf die album, “ʼn Duisend keer ja”, én die musiekvideo vir die liedjie is vroeër in Augustus vrygestel.

Vir meer inligting, besoek haar Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.