Luister: Nádine – ʼn Warrelwind met haar voete plat op die aarde

Die beeldskone Nádine. (Foto: Facebook via @Nadine.net)

Meer as vier jaar sedert Nádine laas nuwe Afrikaanse musiek vrygestel het, het sy nou die klankgolwe getref met ʼn splinternuwe enkelsnit wat klaar beloof om ʼn groot gunsteling op Suid-Afrika se radiostasies te word.

Nader aan jou is ʼn liefdeslied, maar steeds lighartig met ʼn aansteeklike melodie wat nie anders kan as om in jou kop te draai nie. “Dit was die eerste keer in meer as vier en ʼn half jaar dat ek in die ateljee instap en ʼn liedjie opneem,” vertel sy waar sy Vrydag in Maroela Media se ateljee gesels.

“Die sukses van my album Skildery was net ongelooflik en ek het omtrent vir ʼn tydperk van twee jaar voltyds daaraan gewerk. Intussen het soveel verander in die mark en die bedryf van musiek – soos om liedjies te kan aflaai en regstreeks deur die internet te luister na musiek – dat dit regtig CD-verkope baie nadelig beïnvloed het. Jy kan nou nog ʼn CD verkoop, maar dit is amper iets wat jy net by konserte doen. Die mark het ongelooflik baie verander en dit was finansieel nie regtig ʼn goeie belegging om te sê mens neem nou weer ʼn hele nuwe album op nie. Ek dink die mark moes homself eers sif en almal moes net weer hulle voete vind en kyk waar hulle wil belê ten opsigte van musiek – albums of liedjies of opnames,” verduidelik sy.

Sy erken Nader aan jou het ʼn hele paar weke op haar rekenaar gelê voordat sy uiteindelik daarna geluister het. “Toe ek uiteindelik na die liedjie luister, toe sit dit in my kop vas en ek neurie dit heeltyd. Toe besef ek hier is iets wat nogal spesiaal is. Partykeer kan dit die maklikste melodie wees wat die moeilikste is om te skryf en dit is die melodie wat bly vassteek in jou kop. En dit is wat Nader aan jou vir my gedoen het.”

Dit blyk dat daar geen einde is aan dié beeldskone sangeres se talente – óf energie – nie! Sy trap reeds 20 jaar diep spore in die musiekbedryf, maar is boonop ook ʼn gewilde televisieaanbieder, motiveringspreker en sakevrou.

Nádine op die stel van Musiek Roulette (Foto: Facebook via @Nadine.net)

Nádine het pas klaar verfilm aan die jongste reeks van Musiek Roulette, die musiekrealiteitsprogram wat kykers al vyf seisoene lank vasgenael voor die kassie hou. “Sjoe, dit is vir my so, só ʼn lekker ding om te doen,” sê sy. “Ons het nou oor die afgelope vyf jaar altesaam 130 episodes opgeneem en het pas klaargemaak met die tweede deel van ons vyfde reeks.

“So, dit was 13 episodes in ses en ʼn half dae. Ek werk ʼn week lank aan Musiek Roulette-opnames [en] dit word uitgesaai ses maande later oor ʼn tydperk van drie en ʼn half maande. Maar dit voel vir my ek het omtrent ses maande nodig om te herstel!” lag sy.

“Om ʼn speletjiesprogram op televisie aan te bied, is ʼn ongelooflik fisieke ervaring. Behalwe dat jy letterlik dae lank op jou hakke is, moet jy ook heeltyd op jou tone dink.”

Sy erken daar is ook in elke seisoen een deelnemer wat besonder baie in haar hart inkruip en dit is dan baie emosioneel wanneer sy dié deelnemer moet groet.

Binnekort begin Nádine met opnames vir nóg ʼn televisieprogram waar sy ook die aanbiederskoene sal volstaan. Sy verklap dat sy in Julie en Augustus episodes vir Dans in jou taal sal opneem, ʼn kompetisie waar verskillende skole teen mekaar sal dans. Die program sal in 2020 uitgesaai word, maar Nádine wou nie nou al die aap uit die mou laat oor die kanaal waarop dit te sien sal wees nie.

“Dit is baie meer ontspanne en gee my die kans om as aanbieder lekker met die kinders te gesels, hulle voor te stel en beter te leer ken. So, dit is heeltemal anders as Musiek Roulette en ek dink baie meer ontspanne. Ek dink daar kan baie meer blapse gebeur! Maar ek sien so uit. Ek is baie lief vir kinders; dit is vir my so lekker om deel hiervan te wees en ek sien uit na hierdie ervaring saam met hulle.”

Soveel ysters in die vuur en elkeen brand warmer as die vorige een. Hoe kry sy alles gedoen?

“Ek dink ons almal het dieselfde uitdagings; ons bly mense en ons almal het net 24 uur in ʼn dag,” antwoord sy. “Ons almal sê so maklik ‘ek is te besig om te lees’ of ‘ek is te besig om gehaltetyd saam met my familie te hê’. Ek het dit ook op ʼn tyd gedoen. Maar ek het êrens op ʼn dag besef ons almal het net een lewe en dié lewe gaan by ons verby teen die spoed van witlig.

“Ek het eers die afgelope twee of drie jaar van my lewe bietjie meer op my persoonlike lewe begin fokus en toegelaat dat dit meer in die kollig is. Ek het dit altyd eenkant gehou en net gefokus op my musiek. En ek is baie bly ek het dit gedoen, want dit was goed gewees vir daardie 20 jaar wat ek dit gedoen het. Maar ek het nou begin besef as jy nie vir jouself perke stel nie […] raak ons slawe van dit wat ons op ons eie skouers plaas.”

Nádine (Foto: Facebook via @Nadine.net)

En dit blyk dat dié suksesresep uitstekend vir Nádine werk. Sy warrel deur haar besige program sonder om ʼn oog te knip. Sy was pas op die verhoog by Innibos te sien en sal ook binnekort saam met Kurt Darren op die verhoog by Carnival City in aksie wees. Einde Julie is sy te sien saam met nege ander bekendes by Emperors Palace in Liedjies uit die Movies en sy is gereeld op verhoë in Nederland en België.

Die grootste projek waaraan sy tans werk, is ʼn MSC-bootreis genaamd die “Rugby Theme Cruise”. Die boot vaar op 14 Februarie 2020 uit Durban se hawe na die Portugese eilande met Nádine, Touch of Class en Minki van der Westhuizen aan boord. Natuurlik is daar ook heelwat rugbybekendes soos Peter de Villiers, Chester Williams, Danie Gerber, Naas Botha, Wynand Olivier, Stefan Terblanche, Gysie Pienaar en Tiaan Strauss wat saam met die bootgangers gaan kuier.

“Ons gaan soveel sports hê! Op die eiland gaan elke rugbybekende sy span hê van sewe rugbyspelers wat teen mekaar gaan speel. So, as jou man of kêrel kan rugby speel, maak seker jy is op hierdie boot! Die spanne speel teen mekaar, sewe minute aan ʼn kant, dis lekker kort. En dan is daar een span wat die wenspan is en die volgende jaar die titel moet verdedig!”

Borrelend, besig en altyd aan die gang, maar met haar voete stewig op die aarde. Ná ons onderhoud stap Nádine vinnig deur toe. “Jy is klaar laat vir jou volgende afspraak,” maan haar agent. Dan kom vra ʼn aanhanger skaam-skaam vir ʼn foto saam met haar. “Natuurlik!” sê sy en stop in haar spore om eers ʼn foto te neem en ʼn vinnige geselsie aan te knoop.

Toe ek wegstap, dink ek: dit is geen wonder dat Nádine al 20 jaar gelede Suid-Afrikaners se harte gesteel het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mary ·

Briljante kunstenaar. Sy verdien baie meer lof en erkenning as wat sy ontvang. Nadine se stemkwaliteit, nootvastheid en musikaliteit is prysenswaardig! Hoop om nog baie van haar te hoor!

Kat ·

Nadine!!! Meisie mens jy is asemrowend in die oor !!!! Skyn suster laat jou ster altyd skyn!!! Raak ontslae van daai knop kop man wat jou energie sal tap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.