Luister: Namibië se Sanet Lambrechts tref met popsnit

Sanet Lambrechts. (Foto: Facebook)

Die Namibiese sangeres Sanet Lambrechts (46) trap reeds sedert 2013 diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf.

Nie net spog sy met vier vollengte-albums agter haar naam nie, maar het sy ook reeds drie ATKV-toekennings ingeoes en talle treffers op Suid-Afrikaanse, Namibiese, Japannese en Amerikaanse radiostasies gehad.

Haar jongste enkelsnit, “Binne en buite”, is uit die pen van die kunstenaar Julanie J, en handel oor hoe mense hulself isoleer deur nie te wys wie hulle regtig is nie.

“Soms voel ʼn mens eensaam tussen ʼn klomp mense omdat hulle jou nie waarlik ken nie, en ander kere staan jy verstom oor wat jy in iemand anders raaksien sonder dat hulle iets sê,” verduidelik Lambrechts.

“Ek het vir Julanie gevra om vir my ʼn liedjie hieroor te skryf en was baie tevrede met dit waarmee sy vorendag gekom het. Dit is nuut en vars en val lekker op die oor.”

Dié popsnit, wat deur Gideon Botes vervaardig is, het ʼn polsende ritme en spog ook met ʼn treffende musiekvideo deur Ben van der Walt van Bosman Films. Die video is by Die Tannery buite Windhoek en naby Elisenheim in Namibië geskiet.

Van der Walt is ʼn opkomende rolprentmaker wat pas sy eerste rolprent genaamd Woestynpsalms gemaak het. Die video is in ʼn pakhuis geskiet en bestaan uit tonele van mense in verskillende omstandighede waar hulle soms hulself wys en ander kere nie.

“Dit is in die aand geskiet en die beligting is slim aangewend om die binne- en buitekant van mense uit te beeld,” verduidelik Lambrechts.

“Soms is ons binne en buite onsself alleen, ongeag van hoeveel mense daar rondom ons is. Ons wys nie altyd ons ware kleure nie omdat ons mekaar dalk nie regtig ken nie. Partykeer is jy gelukkig genoeg dat iemand oopmaak of dat jy hulle kan lees sonder dat hulle nodig het om iets te sê.”

“Binne en buite” volg op drie van Lambrechts se uitreikings in 2020 getiteld “Sien jy nie”, “Alles wat jy is” en “Hemelse Vader”, wat goed ontvang is en deel vorm van haar digitale album, Alles wat jy is, wat ook tydens die inperking uitgereik is.

Lambrechts het op ʼn plaas in Gobabis grootgeword en sê sing is vir haar “soos asemhaal”. Sy het reeds op skool begin met musiekopleiding en het gereeld opgetree as agtergrondsanger vir groot sterre soos Bles Bridges, Manuel Escorcio, Ronnie Belcher, Hessel van der Walt en meer wanneer hulle in Namibië getoer het.

Buiten verskeie musiekkwalifikasies het sy grade in Afrikaans en sielkunde, asook ʼn nagraadse diploma in onderwys agter haar naam.

Ná skool was sy betrokke by M Factor, ʼn gewilde musiekgroep in Windhoek, en het sy ook as musiekonderwyseres gewerk om die pot aan die kook te hou.

Oor die jare het sy heelwat loopbaanhoogtepunte behaal, waaronder twee ATKV-bekroonde albums getiteld Rooi Kalaharisand en Dorsland. Sy het ook verskeie benoemings vir musiektoekennings ontvang en is in 2020 aangewys as die Namibiese Vrouevereniging se kunstenaar van die jaar.

Sy het al die voorreg gehad om die verhoog met talle groot name te deel, onder wie Lianie May, Theuns Jordaan, Elvis Blue, Nianell, Loyiso, Gerhard Steyn, Louis Brits en vele meer.

“Ek voel geseënd en dankbaar vir alles wat ek al op my pad bereik het en moontlik nog gaan bereik,” sê Lambrechts, wat tans op ʼn plaas buite Windhoek woon.

“Binne en buite” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Sanet Lambrechts.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.