Luister: Nataniël bring stories, musiek én tasse kostuums na Amsterdam

Nataniël kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

Nederland is nie ʼn onbekende bestemming vir Nataniël nie. ʼn Nuwe ervaring wat wel op hom, en Nederlandse gehore, wag, is sy eerste konsert wat eersdaags in Amsterdam aangebied word.

Op Saterdag 13 Mei is dié ikoniese kunstenaar by die Theatre Amsterdam te sien in Nataniël in Concert.

“Dit is altyd vir my opwindend om te sien hoe ʼn nuwe teater, of ʼn teater waar ek nog nooit was nie, funksioneer,” vertel Nataniël in die Maroela Media-ateljee.

Met 37 jaar se ondervinding op Suid-Afrikaanse verhoë, sewe jaar se televisieopnames in Frankryk, en optredes in lande soos Brittanje en Australië, is dit nogtans vir Nataniël ʼn uitdaging om hierdie konsert aan te bied.

Gelukkig kan hy dit aanpak saam met wêreldmusikante wat hy goed ken en saam met wie hy al jare optree. Die musikante wat saam met Nataniël in Nataniël in Concert op die verhoog is, is die Steinway-pianis Charl du Plessis, kontrabas- en baskitaarspeler Werner Spies, en tromspeler Peter Auret.

“Ons kan nie meer musikante saamvat nie, want die res van die sitplekke op die vliegtuig is vir kostuums,” skerts Nataniël.

Nataniël in Concert is ʼn samestelling van Nataniël se kenmerkende stories, oorspronklike musiek in Engels en Afrikaans, asook unieke verwerkings van ʼn paar tydlose treffers. Hy sal ook weer in Floris Louw se uitnemende kostuums op die verhoog verskyn.

“Terwyl ons besig is met repetisies vir verskillende konserte, kom daar baie voorstelle vir stories, musiek en kostuums wat ons vir die konsert in Amsterdam moet oorweeg,” sê Nataniël. Hy voeg by dat die vervoer van sy kostuums bykans altyd ʼn goeie dosis beplanning vereis.

Nataniël. (Foto: Verskaf)

“My grootste kwessie is hoe ek my kostuums veilig in Nederland kry, want party van my goed is so groot dit maak een tas vol. Ek het vir elke lid van die geselskap ʼn ekstra tas geboek sodat elkeen ʼn kostuum kan saamneem. Ek vat ook ʼn paar ekstra saam, maar dit is regtig nie moontlik om alles te vat nie.”

Hy is ook besig om nuwe kostuums vir die vertoning te laat maak. Nie net om gehoorlede wat onlangs by een van sy vertonings was, te verras nie, maar ook ter wille daarvan dat dit nie te swaar is om mee te reis nie.

“Dit is vir my so eienaardig, maar ek is dankbaar daarvoor, dat daar mense is wat nou net by een van my vertonings was en hulle vlieg in Amsterdam toe vir Nataniël in Concert. Hoekom, weet ek nie,” meen Nataniël.

Nataniël in Concert is 90 minute lank. Die konsert het geen pouse nie, geen foto’s of opnames, of kinders onder 15 jaar word toegelaat nie.

  • Koop jou kaartjies vir die konsert in Nederland hier op EventBrite.com.
  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Nataniël. Hy gesels oor sy vertoning in Amsterdam, en wat dit verg om met kostuums te reis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.